Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wanneer bejaardes weer jonk sal wees

Wanneer bejaardes weer jonk sal wees

Kom nader aan God

Wanneer bejaardes weer jonk sal wees

WIE van ons verwelkom die gevolge van die ouderdom—plooie, swak oë, gehoorverlies en wankelrige bene? Jy wonder dalk: ‘Waarom sou God ons skep met die potensiaal om jeugdige krag te geniet en ons dan die gevolge van die ouderdom laat ly?’ Die goeie nuus is dat dit nie is wat God vir ons wou hê nie. Inteendeel, hy het hom liefdevol voorgeneem om ons van die verouderingsproses te bevry! Let op die woorde wat tot die aartsvader Job gespreek is, in Job 33:24, 25.

Beskou die situasie van Job, ’n lojale man vir wie Jehovah lief was. Job was nie daarvan bewus dat Satan sy onkreukbaarheid bevraagteken het en gesê het dat hy God net om selfsugtige redes dien nie. Jehovah het Satan toegelaat om Job te toets omdat Hy vertroue in Job gehad het en geweet het dat Hy die mag het om enige skade ongedaan te maak. Toe het Satan “Job met kwaadaardige swere getref, van die sool van sy voet tot die kroon van sy kop” (Job 2:7). Job se vlees was bedek met wurms, en sy vel het korse gevorm, swart geword en afgeval (Job 7:5; 30:17, 30). Kan jy jou sy intense pyn voorstel? Nogtans het Job getrou gebly en gesê: “Totdat ek sterf, sal ek my onkreukbaarheid nie prysgee nie!”—Job 27:5.

Job het egter ’n ernstige fout begaan. Toe dit vir hom gelyk het dat hy sou sterf, het hy te besorg daaroor geword om homself te regverdig en het hy “eerder sy eie siel regverdig verklaar . . . as God” (Job 32:2). God se woordvoerder Elihu het Job tereggewys. Maar Elihu het ook ’n positiewe boodskap van God aan Job oorgedra: “Laat hom [Job] nie in die kuil [die gemeenskaplike graf] afdaal nie! Ek het ’n losprys gevind! Laat sy vlees frisser word as in die jeug; laat hy terugkeer na die dae van sy jeugdige krag” (Job 33:24, 25). Hierdie woorde het Job ongetwyfeld met hoop vervul. Hy sou nie tot sy dood hoef te bly ly nie. As Job berou sou toon, sou God daarin behae skep om ’n losprys ten behoewe van hom te aanvaar en hom van sy rampspoed te bevry. *

Job het teregwysing nederig aanvaar, en hy het berou getoon (Job 42:6). Jehovah het klaarblyklik ’n losprys ten behoewe van Job aanvaar en toegelaat dat dit sy oortreding bedek en die grondslag voorsien vir God om hom te genees en te beloon. Jehovah “het die einde van Job meer geseën as sy begin” (Job 42:12-17). Stel jou Job se verligting voor toe hy, benewens ander seëninge, ook van sy weersinwekkende siekte genees is en sy vlees as ’t ware ‘frisser as in die jeug’ geword het!

Die losprys wat God ten behoewe van Job aanvaar het, was van beperkte waarde, want hy was nog steeds onvolmaak en het later gesterf. Ons het ’n baie beter losprys. Jehovah het uit liefde sy Seun, Jesus, as ’n losprys vir ons gegee (Matteus 20:28; Johannes 3:16). Almal wat geloof stel in hierdie losprys, het die vooruitsig om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe. In daardie komende nuwe wêreld sal God getroue mense van die verouderingsproses bevry. Leer gerus meer omtrent hoe jy die tyd kan beleef wanneer bejaardes sal sien hoe hulle “vlees frisser word as in die jeug”.

Voorgestelde Bybelleesgedeelte vir April:

Job 16-37

[Voetnoot]

^ par. 3 Die woord “losprys” wat hier gebruik word, beteken “bedek” (Job 33:24; voetnoot in NW). In Job se geval was die losprys moontlik ’n diereoffer wat God sou aanvaar om Job se oortreding te bedek, of versoening daarvoor te doen.—Job 1:5.