Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Hoe vergelyk name op antieke kleiseëls met name wat in die Bybel voorkom?

In die ou tyd het mense wat amptelike dokumente hanteer het, dit opgerol en met ’n toutjie vasgebind en dan ’n stuk nat klei op die knoop gesit en ’n seël daarop afgedruk. Seëlafdrukke is op dokumente gebruik as ondertekening, ondertekening deur ’n getuie en om dit as eg te bevestig.

Seëls is soms in ringe geïnkorporeer en is as kosbaar beskou (Genesis 38:18; Ester 8:8; Jeremia 32:44). Die naam van die eienaar, sy amptelike titel en die naam van sy vader het dikwels op die seël verskyn.

Navorsers het honderde antieke seëlafdrukke gevind, wat bulle genoem word. Die name van mense wat in die Bybel genoem word, verskyn op party daarvan. Argeoloë het byvoorbeeld afdrukke gevind wat vermoedelik gemaak is deur die persoonlike seëls van twee Judese konings. Een afdruk sê: “Van Agas [seun van] Jehotam [Jotam], Koning van Juda.” Ander afdrukke sê: “Van Hiskia [seun van] Agas, Koning van Juda” (2 Konings 16:1, 20). Agas en Hiskia het in die agtste eeu VHJ regeer.

Geleerdes het ’n aantal ander bulle ondersoek waarop seëls wat moontlik aan Bybelkarakters behoort het, afgedruk is. Onder hulle is mense wat in Jeremia se geskrifte genoem word, soos Barug (Jeremia se sekretaris), Gemarja (“seun van Safan”), Jeragmeël (“seun van die koning”), Jugal (“seun van Selemja”) en Seraja (Barug se broer).—Jeremia 32:12; 36:4, 10, 26; 38:1; 51:59.

Hoe word verskillende tye van die dag in die Bybel geïdentifiseer?

Die Hebreeuse Geskrifte gebruik woorde soos “oggend”, “middaguur” en “aand” (Genesis 24:11; Deuteronomium 28:29; 1 Konings 18:26). Die Hebreërs het die nag in drie nagwake van omtrent vier uur elk verdeel, maar het later die Griekse en Romeinse stelsel van vier nagwake aangeneem. Jesus het klaarblyklik verwys na laasgenoemde metode om tyd te verdeel toe hy gesê het: “Hou . . . aan waak, want julle weet nie wanneer die heer van die huis kom nie, hetsy laat in die dag of middernag of met hanekraai of vroeg in die oggend” (Markus 13:35). Die waak “laat in die dag” was van sononder tot 21:00. Die volgende een het om middernag geëindig, en die derde een, die “hanekraai”, het tot omtrent drie-uur die oggend geduur. Die laaste een, die waak vroeg in die oggend, het tot sonop geduur. Dit was gedurende “die vierde nagwaak” dat Jesus op die water van die See van Galilea geloop het.—Matteus 14:23-26.

In die Christelike Griekse Geskrifte het die term “uur” verwys na een twaalfde van die periode van daglig, wat van son­op tot sononder geduur het (Johannes 11:9). Aangesien sonop en sononder in Israel na gelang van die seisoen verander, is slegs die benaderde tyd van ’n gebeurtenis gewoonlik aangegee, soos “omstreeks die sesde uur”.—Handelinge 10:9.

[Prent op bladsy 15]

Kleiseëls waarop die name Hiskia en Agas (voor) en moontlik Barug (agter) verskyn

[Erkennings]

Agter: Courtesy of Israel Museum, Jerusalem

Voor: www.BibleLandPictures .com / Alamy

[Prent op bladsy 15]

Sonnewyser, Romeinse keisertyd (27 VHJ–476 HJ)

[Erkenning]

© Gerard Degeorge / The Bridgeman Art Library International