Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Leer jou kinders

Wanneer ons moet wakker bly

Wanneer ons moet wakker bly

JY STEM dalk saam dat dit belangrik is om wakker te bly wanneer jy by die skool is. Baie word vaak gedurende hulle klasse, maar as jy wil leer, moet jy wakker bly. Jy woon moontlik ook vergaderinge by waar jy die Bybel bestudeer.

Wat dink jy kan jy doen om jou te help om wakker te bly? a Een idee is om saans vroeër bed toe te gaan. Dalk sal ’n middagslapie ook help. Kom ons kyk wat ons kan leer uit wat met ’n jong man gebeur het wat laat een aand gedurende ’n toespraak van die apostel Paulus aan die slaap geraak het. Blaai in die Bybel na Handelinge hoofstuk 20, verse 7 tot 12, en kyk wat gebeur het.

Paulus het die gemeente in die hawestad Troas besoek. Die Bybel sê dat Paulus “die volgende dag [per boot] sou vertrek”. Gevolglik het hy “sy toespraak tot middernag verleng”. Ons lees: “’n Sekere jong man met die naam Eutigus, wat by die venster gesit het, het in ’n diep slaap geval terwyl Paulus aangehou praat het.” Wat het toe gebeur?

Eutigus het uit ’n venster op “die derde verdieping” geval. Paulus en die ander het so vinnig as wat hulle kon by die trap afgehardloop. Eutigus was op die grond—dood! Kan jy jou voorstel hoe hartseer hulle almal was?— Die Bybel sê dat Paulus Eutigus in sy arms geneem en hom vasgehou het. Kort daarna het Paulus met vreugde uitgeroep: ‘Moenie bekommerd wees nie, hy lewe!’ God het Eutigus weer lewendig gemaak!

Wat kan ons omtrent God leer uit wat met Eutigus gebeur het?— Een ding is dat Jehovah, ons hemelse Vader, die dooies, insluitende jongmense, weer lewendig kan maak. Jehovah verstaan jou en is lief vir jou, ja, selfs meer as jou ouers. Toe Jesus op aarde was, het hy getoon watter soort persoon die Vader is deur kindertjies in sy arms te neem en hulle te seën. Hy het ook jongmense, onder andere ’n 12-jarige meisie, opgewek.

Hoe voel jy oor die feit dat jou hemelse Vader jou liefhet?— Ja, dit beweeg ons om Jehovah ook lief te hê en aan Hom gehoorsaam te wil wees. Weet jy hoe ons kan toon dat ons Hom liefhet?— Een manier is deur dit te sê. Jesus het gesê: ‘Ek het die Vader lief.’ Maar Jesus het meer gedoen as om net te sê dat hy God liefhet. Hy het dit deur sy dade bewys.

Jesus was gehoorsaam aan God. ‘Ek doen altyd die dinge wat hom behaag’, het Jesus gesê. As ons sy voorbeeld volg, sal ons dus ons bes doen om wakker te bly wanneer ons moet, sodat ons Jehovah en sy Seun, Jesus, gelukkig kan maak.

a As jy saam met ’n kind lees, dien die aandagstreep as ’n herinnering om te pouseer en die kind aan te moedig om sy gedagtes uit te spreek.