Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Abraham—’n Man van geloof

Abraham—’n Man van geloof

Abraham—’n Man van geloof

Abraham staan buite in die stilte van die aand. Terwyl hy opkyk na die helder sterrehemel, kan hy nie anders as om te dink aan God se belofte dat sy nakomelinge so talryk soos daardie sterre sal word nie (Genesis 15:5). Vir Abraham is die sterre ’n sigbare herinnering aan Jehovah se belofte. Hulle is ook ’n waarborg. As Jehovah immers die krag het om die ontsaglike heelal en alles daarin te skep, kan hy Abraham en Sara dan nie ook in staat stel om ’n kind te hê nie? Dit is die soort geloof wat Abraham het.

WAT IS GELOOF? “Geloof”, soos dit in die Bybel gebruik word, verwys na vaste vertroue in iets onsigbaars. Sulke vertroue is gebaseer op gegronde bewyse. ’n Persoon met geloof in God fokus op die vervulling van Jehovah se beloftes, vol vertroue dat dit so goed as vervul is.

HOE HET ABRAHAM GELOOF AAN DIE DAG GELÊ? Abraham het getoon dat hy God se beloftes glo. In geloof het Abraham sy geboorteland verlaat, vol vertroue dat Jehovah Sy belofte sou nakom om hom ’n ander land te wys. In geloof het Abraham deur Kanaän geswerf, vol vertroue dat sy nageslag uiteindelik daardie land sou besit. En in geloof het Abraham Isak uit gehoorsaamheid probeer opoffer, vol vertroue dat Jehovah Isak sou opwek, indien nodig.—Hebreërs 11:8, 9, 17-19.

Abraham het eerder op die toekoms as op die verlede gefokus. Hoewel Abraham en Sara dalk ’n geriefliker lewenswyse in Ur as in Kanaän geniet het, het “hulle nie bly dink aan die land wat hulle verlaat het nie” (Hebreërs 11:15, Today’s English Version). Hulle het eerder gefokus op hoe God hulle en hulle nakomelinge in die toekoms sou seën.—Hebreërs 11:16.

Was daar grondige rede vir Abraham se geloof? Ongetwyfeld. Jehovah het elkeen van sy beloftes nagekom. Abraham se nageslag het uiteindelik vermenigvuldig en die nasie Israel geword. Mettertyd het die Israeliete in Kanaän begin woon, die einste land wat Jehovah aan Abraham belowe het.—Josua 11:23.

WATTER LESSE LEER ONS HIERUIT? Ons kan vol vertroue wees dat Jehovah sy beloftes sal nakom. Selfs al lyk party van hulle onmoontlik uit ’n menslike oogpunt weet ons dat ‘alles by God moontlik is’.—Matteus 19:26.

Abraham se voorbeeld leer ons ook om te fokus op wat ons in die toekoms sal geniet, nie op hoe dinge in die verlede was nie. Dit is wat ’n man met die naam Jason geleer het om te doen. Jason ly aan ’n aftakelende siekte wat hom heeltemal verlam het. “Ek moet erken dat daar tye is wanneer ek aan die verlede dink”, sê Jason. Hy voeg by: “Ek mis die klein dingetjies die meeste, soos om my vrou, Amanda, drukkies te gee.”

Jason het nietemin onwrikbare geloof dat Jehovah sy beloftes sal nakom, insluitende die belofte dat ons aarde binnekort ’n paradys sal word en dat getroue mense die ewige lewe in volmaakte gesondheid sal ontvang (Psalm 37:10, 11, 29; Jesaja 35:5, 6; Openbaring 21:3, 4). * “Ek herinner my daaraan dat die beste tye nog voorlê”, sê Jason, en hy verduidelik: “Binnekort sal dit alles verby wees—die stres, die angs, die hartseer, die skuldgevoelens—en dit sal vir ewig iets van die verlede wees.” Wat ’n uitstekende voorbeeld van geloof soos dié van Abraham!

[Voetnoot]

^ par. 9 Om meer oor die toekomstige aardse paradys uit te vind, sien hoofstukke 3, 7 en 8 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.