Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wie was Abraham?

Wie was Abraham?

Wie was Abraham?

MIN mense het ’n groter invloed op die wêreld se godsdienste gehad. Abraham * word vereer deur Jode, Moslems en Christene, en hy is al beskryf as “’n reus van die Skrif” en “’n uitmuntende voorbeeld van geloof”. Die Bybel noem hom “die vader . . . van almal wat geloof het”.—Romeine 4:11.

Waarom word Abraham so hooggeag? Een rede is dat Abraham die enigste persoon is na wie die Bybel direk verwys as God se vriend—en dit boonop drie keer!—2 Kronieke 20:7, voetnoot in NW; Jesaja 41:8; Jakobus 2:23.

Maar in ander opsigte was Abraham ’n gewone mens soos ons. Hy het voor baie van dieselfde probleme as ons te staan gekom—en hy het dit met welslae die hoof gebied. Sal jy graag wil weet hoe hy dit gedoen het? Kyk wat die Bybel oor hierdie merkwaardige man openbaar.

Sy agtergrond

Abraham is in 2018 VHJ gebore en het in Ur grootgeword (Genesis 11:27-31). Ur was ’n groot en welvarende stad, waarin afgodediens gefloreer het. Abraham se vader, Tera, was moontlik onder diegene wat verskeie afgode aanbid het (Josua 24:2). Maar Abraham het besluit om slegs Jehovah * te aanbid eerder as die lewelose afbeeldings van ander gode.

Wat het Abraham beweeg om hierdie besluit te neem? Wel, Abraham se lewe en dié van Noag se seun Sem het met 150 jaar oorvleuel. Watter uitwerking sou moontlike assosiasie met Sem, wat baie ouer as hy was, dalk op hom gehad het? Abraham kon by Sem self gehoor het hoe dit was om die wêreldwye Vloed te oorleef. Hy het dalk ook geleer hoe belangrik dit is om Jehovah te aanbid, die God wat Sem en sy gesin deur die Vloed heen bewaar het.

Hetsy Abraham deur middel van Sem of op ’n ander manier kennis van die ware God opgedoen het, hy het gunstig gereageer op wat hy geleer het. Toe Jehovah, “die ondersoeker van harte”, na Abraham gekyk het, het hy iets goeds in die man gesien—en hy het die goeie laat groei.—Spreuke 17:3; 2 Kronieke 16:9.

Sy lewe

Abraham het ’n vol en opwindende lewe gelei, ’n lewe wat dikwels uitdagings gebied het, maar wat nooit sinloos was nie. Kyk na net ’n paar van sy ondervindinge.

Terwyl Abraham in Ur gewoon het, het God vir hom gesê om sy geboorteland te verlaat en na ’n land te gaan wat Hy hom sou wys. Hoewel Abraham en Sara nie al die besonderhede geken het nie—waarheen hulle op pad was of waarom God hulle gevra het om weg te trek—was hulle gehoorsaam. Abraham en Sara het uiteindelik in tente in die land Kanaän gewoon en het die res van hulle lewe ’n swerwersbestaan gevoer.—Handelinge 7:2, 3; Hebreërs 11:8, 9, 13.

Terwyl Abraham en Sara nog kinderloos was, het Jehovah belowe om Abraham ’n groot nasie te maak. Jehovah het bygevoeg dat al die families van die aarde deur middel van Abraham geseën sou word (Genesis 11:30; 12:1-3). Jehovah het hierdie belofte later bevestig. Hy het vir Abraham gesê dat sy nakomelinge talryk sou word, soos die sterre van die hemel.—Genesis 15:5, 6.

Toe Abraham 99 en Sara byna 90 jaar oud was, het Jehovah belowe dat hulle ’n seun sou hê. Vanuit ’n menslike oogpunt het dit onmoontlik gelyk, maar Abraham en Sara het kort voor lank geleer dat niks “te buitengewoon vir Jehovah” is nie (Genesis 18:14). Een jaar later, toe Abraham 100 jaar oud was, het hy ’n seun gehad, wat hy Isak genoem het (Genesis 17:21; 21:1-5). God het spesifiek belowe dat die mensdom deur middel van Isak groot seëninge sou geniet.

Jare later het Jehovah ’n baie vreemde versoek aan Abraham gerig: Hy het Abraham gevra om sy geliefde seun, Isak, te offer, al was die jong man ongetroud en kinderloos. * Hoewel die gedagte om sy seun te verloor Abraham ongetwyfeld hartseer gemaak het, het hy reëlings getref om die opdrag uit te voer en Isak te offer. Abraham het vas geglo dat God die krag het om Isak op te wek, indien nodig, om Sy beloftes te vervul (Hebreërs 11:19). Op die kritieke oomblik net voordat Abraham sy seun sou offer, het God ingegryp en Isak se lewe gespaar. Hy het Abraham geprys vir sy uitsonderlike gehoorsaamheid. Jehovah het toe sy vroeëre beloftes aan Abraham herhaal.—Genesis 22:1-18.

Abraham is op die ouderdom van 175 jaar oorlede. Hy het “op ’n goeie ouderdom gesterf”, sê die Bybel, en dit voeg by dat hy “oud en tevrede” was (Genesis 25:7, 8). Abraham het dus die vervulling van nog een van God se beloftes ondervind—naamlik dat hy ’n lang lewe sou geniet voordat hy in vrede sou sterf.—Genesis 15:15.

Sy nalatenskap

Abraham is baie meer as net ’n godsdiens- of geskiedkundige figuur uit die verre verlede. Sy verhaal is tot vandag toe nog van groot belang en dien vir ons almal as ’n pragtige voorbeeld (Hebreërs 11:8-10, 17-19). Kom ons bespreek vier van die goeie eienskappe wat Abraham aan die dag gelê het. Ons sal begin met wat moontlik sy bekendste eienskap is—geloof.

[Voetnote]

^ par. 2 Abraham het oorspronklik bekend gestaan as Abram en sy vrou as Sarai. Later het God Abram se naam verander na Abraham, wat “vader van ’n menigte” beteken, en hy het Sarai se naam verander na Sara, wat “prinses” beteken (Genesis 17:5, 15). Ter wille van eenvoud sal ons in hierdie reeks artikels na hulle as Abraham en Sara verwys.

^ par. 6 Jehovah is die naam van God soos dit in die Bybel geopenbaar word.

[Venster op bladsy 4]

’n Belangrike figuur in Bybelgeskiedenis

Die eerste tien hoofstukke van die Bybelboek Genesis bevat besonderhede van die lewe van etlike manne van geloof, insluitende Abel, Henog en Noag. Maar die grootste deel van die volgende 15 hoofstukke is gewy aan die lewe van een man—Abraham.

Wat meer is, ’n paar van die belangrikste begrippe in die Bybel word die eerste keer in verband met Abraham gemeld. In die verhaal van Abraham se lewe vind ons byvoorbeeld . . . 

▪ die eerste verwysing na God as ’n Skild vir, of Beskermer van, sy knegte.—Genesis 15:1; sien Deuteronomium 33:29; Psalm 115:9; Spreuke 30:5.

▪ die eerste verwysing daarna om geloof in God te stel.Genesis 15:6.

▪ die woord profeet vir die eerste keer.—Genesis 20:7.

▪ die eerste verwysing na ’n ouer se liefde.Genesis 22:2.