Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is wonderwerke werklik moontlik?—Drie algemene besware

Is wonderwerke werklik moontlik?—Drie algemene besware

Is wonderwerke werklik moontlik?—Drie algemene besware

BESWAAR 1: Wonderwerke is nie moontlik nie, want dit skend natuurwette. Ons begrip van natuurwette is gegrond op wat wetenskaplikes in die natuurlike wêreld om ons waargeneem het. Hierdie wette is egter soortgelyk aan die grammatikareëls van ’n taal—daar kan uitsonderings op die reël wees. Ons begrip van hierdie “reëls” is heel moontlik baie beperk (Job 38:4). ’n Toegewyde wetenskaplike het dalk sy hele lewe daaraan gewy om ’n sekere natuurwet te bestudeer. Net een “uitsondering” sal egter van hom vereis om sy begrip van daardie wet te hersien. Daar is ’n gesegde wat sê: “Net een swart swaan weerlê die teorie dat alle swane wit is.”

’n Humoristiese storie illustreer hoe maklik dit is om ’n opinie op onvolledige feite te baseer. John Locke (1632-1704) het hierdie storie oor die Nederlandse ambassadeur en die koning van Siam vertel: Terwyl hy sy land, Holland, aan die koning beskryf het, het die ambassadeur gesê dat dit soms moontlik is vir ’n olifant om op water te loop. Die koning het gedink dat die ambassadeur vir hom jok en het die idee verwerp. Maar die ambassadeur het bloot iets beskryf wat die koning nog nie self gesien het nie. Die koning het nie besef dat wanneer water vries en ys word, dit die gewig van ’n olifant kan dra nie. Vir die koning het dit onmoontlik geklink, want hy het nie al die feite gehad nie.

Dink aan enkele moderne prestasies wat net ’n paar dekades gelede as onmoontlik beskou sou word:

● ’n Vliegtuig kan meer as 800 passasiers ononderbroke van New York na Singapoer vervoer teen ’n spoed van 900 kilometer per uur.

● Videokonferensies stel mense op verskillende vastelande in staat om van aangesig tot aangesig met mekaar te praat.

● Duisende liedjies kan gestoor word op ’n toestel wat kleiner as ’n vuurhoutjiedosie is.

● Chirurge kan harte en ander liggaamsdele oorplant.

Watter logiese gevolgtrekking kan ons na aanleiding van hierdie feite maak? Die volgende: As mense dinge kan doen wat net ’n paar jaar gelede onmoontlik gelyk het, dan kan die God wat die heelal en alles daarin geskep het, sekerlik wonderlike dinge doen wat ons nog nie ten volle verstaan nie of wat ons nie tans kan namaak nie. *Genesis 18:14; Matteus 19:26.

BESWAAR 2: Die Bybel maak op wonderwerke staat om mense te laat glo. Die Bybel sê nie vir ons om alle wonderwerke te glo nie. Inteendeel, die Bybel waarsku ons om baie versigtig te wees en nie sommer wonderwerke en kragtige tekens te vertrou nie. Let op hierdie duidelike waarskuwing: “Die koms van die wettelose sal in ooreenstemming met die werk van Satan wees met allerhande valse wonderwerke, tekens en wonders, en met elke soort misleidende boosheid.”—2 Tessalonisense 2:9, 10, New International Version.

Jesus Christus het ook gewaarsku dat baie sou sê dat hulle hom volg, maar nie sy ware volgelinge sou wees nie. Party sou selfs vir hom sê: “Here, Here, het ons nie in u naam geprofeteer en in u naam demone uitgedryf en baie wonderwerke verrig nie?” (Matteus 7:22, NIV). Maar Jesus het gesê dat hy nie daardie persone as sy volgelinge sou aanvaar nie (Matteus 7:23). Dit is dus duidelik dat Jesus nie geleer het dat alle wonderwerke van God kom nie.

God sê nie vir sy aanbidders om hulle geloof bloot op wonderwerke te grond nie. Hulle geloof moet eerder stewig op feite gegrond wees.—Hebreërs 11:1.

Kom ons kyk byvoorbeeld na ’n welbekende wonderwerk wat in die Bybel opgeteken is, naamlik die opstanding van Jesus Christus. Jare ná daardie gebeurtenis het party Christene in Korinte Jesus se opstanding begin bevraagteken. Hoe het die apostel Paulus daardie Christene gehelp? Het hy eenvoudig gesê: “Julle moet meer geloof hê”? Nee. Let op hoe hy hulle aan bevestigde feite herinner het. Hy het gesê dat Jesus “begrawe is, ja, dat hy op die derde dag opgewek is, volgens die Skrif; en dat hy aan Sefas verskyn het, toe aan die twaalf. Daarna het hy aan meer as vyfhonderd broers tegelyk verskyn, waarvan die meeste nou nog lewe.”—1 Korintiërs 15:4-8.

Het dit saak gemaak of daardie Christene aan dié wonderwerk glo? Paulus sê verder: “As Christus nie opgewek is nie, is ons prediking beslis tevergeefs en is ons geloof tevergeefs” (1 Korintiërs 15:14). Paulus het nie die saak ligtelik opgeneem nie. Die wonderwerk van die opstanding van Jesus was óf waar óf nie waar nie! En Paulus het geweet dat dit waar was weens die honderde ooggetuieverslae van mense wat destyds nog geleef het. Trouens, daardie ooggetuies was bereid om te sterf eerder as om te ontken wat hulle gesien het.—1 Korintiërs 15:17-19.

BESWAAR 3: Wonderwerke is bloot natuurverskynsels wat ongeleerde mense verkeerd verstaan. Party geleerdes probeer die wonderwerke in die Bybel verklaar deur te sê dat dit blote natuurverskynsels is wat sonder goddelike ingryping plaasgevind het. Hulle meen dat dit die Bybelverslae geloofwaardiger maak. Hoewel natuurverskynsels—soos aardbewings, plae en grondverskuiwings—dalk met sommige wonderwerke gepaardgegaan het, het hulle verklarings een ding in gemeen. Dit neem nie die tydsberekening van die wonderwerk in ag soos dit in die Skrif uiteengesit word nie.

Party het byvoorbeeld al aangevoer dat die eerste plaag wat oor Egipte gebring is, die verandering van die Nylrivier se water in bloed, in werklikheid plaasgevind het omdat rooi grond, tesame met rooierige organismes wat flagellate genoem word, in die Nyl afgespoel het. Die Bybelverslag sê egter dat die rivier in bloed verander het, nie in rooi modder nie. As ’n mens Eksodus 7:14-21 noukeurig lees, sien jy dat hierdie wonderwerk plaasgevind het toe Aäron, op Moses se bevel, die Nylrivier met sy staf geslaan het. Al het ’n natuurverskynsel die rivier se water laat verander, was dit wel ’n wonderwerk dat Aäron die rivier op presies daardie tyd geslaan het!

Om verder toe te lig hoe belangrik die tydsberekening van ’n wonderwerk is, kan ons kyk na wat gebeur het net voordat die nasie Israel die Beloofde Land binnegegaan het. Die Jordaanrivier, wat in vloed was, het hulle pad versper. Die Bybelverslag sê vir ons wat toe gebeur het: “Die oomblik toe die draers van die Ark die Jordaan bereik en die priesters wat die Ark dra, hulle voete aan die kant van die waters insteek . . . , toe het die waters wat van bo afvloei, bly staan. Dit het soos een dam opgerys, baie ver weg by Adam” (Josua 3:15, 16). Was dit die gevolg van ’n aardbewing of ’n grondstorting? Die verslag sê nie. Maar die tydsberekening van hierdie gebeurtenis was wonderdadig. Dit het op presies die oomblik plaasgevind wat Jehovah gesê het dit sou.—Josua 3:7, 8, 13.

Vind wonderwerke dus plaas? Die Bybel sê dat dit wel plaasvind. En volgens die Bybel is dit nie blote natuurverskynsels nie. Is dit dan logies om te sê dat dit onmoontlik is net omdat dit nie elke dag plaasvind nie?

[Voetnoot]

^ par. 9 As jy twyfel of God bestaan, sien asseblief die brosjures Gee God werklik vir ons om? en Is lewe geskep? of vra die persoon wat hierdie tydskrif vir jou gegee het vir meer inligting.

[Prent op bladsy 5]

Net ’n paar dekades gelede sou baie mense gedink het dat dit onmoontlik is vir mense om teen honderde kilometer per uur te vlieg