Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kom nader aan God

Is jy in God se “gedenkboek”?

Is jy in God se “gedenkboek”?

SIEN Jehovah die pogings van sy aanbidders om hom te behaag raak? Ja! Maar hy is nie net van hulle godvrugtige dade en woorde van lof bewus nie. Hy weet selfs wanneer hulle met waardering aan hom dink. Wat meer is, Jehovah sal nooit sy volk en wat hulle gedoen het, vergeet nie. Hoe kan ons seker wees hiervan? Die antwoord word gevind in die woorde wat die profeet Maleagi neergeskryf het.—Lees Maleagi 3:16.

In die vyfde eeu VHJ, toe Maleagi geprofeteer het, was die sedelike en godsdienstoestande in Israel skokkend. Die priesters het hulle pligte verwaarloos, en die volk oor die algemeen het godonterende gebruike soos towery, egbreuk en bedrog begin beoefen (Maleagi 2:8; 3:5). Maar daar was ’n groep Israeliete wat te midde van hierdie verdorwenheid lojaal gebly het. Wat het hulle gedoen?

“Dié wat Jehovah vrees, [het] met mekaar gepraat”, verduidelik Maleagi. Vrees vir God is ’n positiewe eienskap. In hierdie vers beskryf Maleagi Israeliete wat ’n diepe respek vir God gehad het tesame met ’n gesonde vrees om hom te mishaag. Let op dat hierdie godvresende persone “met mekaar gepraat” het. Hulle het blykbaar bymekaargekom om goed van Jehovah te praat en mekaar aan te moedig, sodat hulle nie moedeloos sou word of deur die verdorwenheid om hulle besmet sou word nie.

Die getroue Israeliete het hulle eerbied vir Jehovah op nog ’n betekenisvolle manier getoon: Hulle het ‘aan sy naam gedink’. ’n Ander vertaling sê “sy Naam eer”. Hierdie godvresende persone het Jehovah selfs in hulle gedagtes geëer. Hulle het in hulle hart met waardering gedink aan, of gepeins oor, Jehovah en sy groot naam. Was Jehovah bewus van wat hulle gedoen het?

Maleagi sê: “Jehovah het aandag bly skenk en geluister.” Uit sy verhewe woning in die hemel het Jehovah as ’t ware sy oor geneig en elke woord van lof gehoor wat sy aanbidders met mekaar gespreek het. Hy het ook aandag geskenk aan al hulle privaat bepeinsinge (Psalm 94:11). Maar hy het meer gedoen as om net aandag te skenk aan hulle goeie woorde en gedagtes.

“’n Gedenkboek is voor hom geskryf”, sê Maleagi. Hierdie boek is ’n verslag van almal wat Jehovah in onkreukbaarheid gedien het. Let op dat dit “’n gedenkboek” genoem word. * Dit sê vir ons dat Jehovah nooit sy getroue aanbidders en alles wat hulle tot lof van hom gedoen het—elke goeie daad, woord en gedagte—sal vergeet nie. Maar God onthou hulle met ’n rede. Hy belowe om diegene wie se naam onuitwisbaar in sy gedenkboek opgeteken is, met die ewige lewe te beloon.—Psalm 37:29. *

Hoe vertroostend is dit tog om te weet dat Jehovah alles waardeer wat ons doen om hom op aanneemlike wyse te aanbid! Die woorde in Maleagi 3:16 bied ons stof tot ernstige nadenke. Ons kan ons gerus afvra: ‘Is my naam in God se “gedenkboek”?’ Dit sal wees as ons ons bes doen om elke dag op ’n wyse op te tree, te praat en te dink wat Jehovah sal wil onthou.

Voorgestelde Bybelleesgedeelte vir Desember:

Nahum 1-3Maleagi 1-4

^ par. 6 Die Hebreeuse woord vir ‘gedenk’ beteken meer as om iets net te onthou. Dit kan ook daarop dui dat iemand iets doen omtrent wat onthou word.

^ par. 6 Vir meer inligting oor God se belofte van die ewige lewe, sien hoofstuk 3 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.