“Vrede onder mense van welwillendheid”
“Heerlikheid aan God in die hoogtes daar bo, en op aarde vrede onder mense van welwillendheid.”—LUKAS 2:14.
’n Rede waarom party Kersfees vier.
Elke jaar verkondig die pous en ander godsdiensleiers boodskappe van vrede in die hoop dat die Kersseisoen die engele se verklaring sal vervul: “Op aarde vrede onder mense van welwillendheid.” Party lê spesiale pelgrimstogte af om dit te vier.
Waarom is dit ’n uitdaging?
Vrede gedurende die Kerstyd is hoogstens tydelik. Byvoorbeeld, terwyl Europa in Desember 1914 in die Eerste Wêreldoorlog gewikkel was, het Britse en Duitse soldate uit die loopgrawe gekom en Kersfees saam gevier. Hulle het saam geëet, gedrink en sigarette gerook. Hulle het selfs sokker gespeel. Maar die wapenstilstand het nie lank geduur nie. In ’n brief wat van die frontlinie af geskryf is, het ’n Britse soldaat vertel dat ’n Duitse soldaat vir hom gesê het: “Vandag het ons vrede. Môre veg jy vir jou land; ek veg vir myne.”
Watter Bybelbeginsels kan jou help?
“’n Kind is vir ons gebore . . . Hy sal genoem word: . . . Vredevors. Aan die oorvloed van die vorstelike heerskappy en aan vrede sal daar geen einde wees nie” (Jesaja 9:6, 7). Is hierdie profesie oor Jesus Christus nie gerusstellend nie? Jesus is nie op die aarde gebore om elke jaar een dag van vrede te bewerkstellig nie. As hemelse Heerser sal hy ware vrede bring wat nie tot ’n einde sal kom nie.
“Julle [kan] deur middel van my [Jesus] vrede . . . hê. In die wêreld het julle verdrukking, maar skep moed! Ek het die wêreld oorwin” (Johannes 16:33). Vandag reeds bevorder Jesus vrede onder sy volgelinge. Christene het weliswaar verdrukking. Maar danksy die Bybel verstaan hulle waarom daar lyding is en hoe Jesus blywende vrede sal bring. Dit gee hulle gemoedsrus.
Omdat Jehovah se Getuies—ongeag hulle nasionaliteit, velkleur, etnisiteit of taal—ag slaan op Jesus se woorde, geniet hulle hierdie vrede. Gaan kyk self deur ’n vergadering by hulle Koninkryksaal by te woon. Moontlik sal jy, soos baie ander, saamstem dat hierdie vrede beter is as enige vrede wat Kersfees kan bied.
Jehovah se Getuies geniet eenheid en vrede ongeag hulle velkleur of taal. Gaan kyk self deur ’n vergadering by hulle Koninkryksaal by te woon