Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Aan ons lesers

Aan ons lesers

Die tydskrif wat jy nou lees, is vir die eerste keer in Julie 1879 uitgegee. Tye het sedertdien verander—en so ook hierdie tydskrif. (Sien foto’s hierbo.) Vanaf hierdie nommer sal jy nog veranderinge in Die Wagtoring sien. Wat sal anders wees?

In baie lande gebruik al hoe meer mense die Internet om inligting te kry, en hulle is gemaklik met hierdie metode. Met die klik van ’n muis kan hulle toegang verkry tot inligtingsbronne wat slegs op die Internet beskikbaar is. Baie boeke, tydskrifte en koerante kan aanlyn gelees word.

Weens hierdie tendens het ons onlangs ons webwerf www.ps8318.com herontwerp om dit aantrekliker en gebruikersvriendeliker te maak. Besoekers aan die webwerf kan publikasies lees wat al in meer as 430 tale verskyn het. Maar vanaf hierdie maand kan besoekers aan ons webwerf ook artikels lees wat gereeld in ons gedrukte tydskrifte verskyn het, maar wat nou slegs op ons webwerf sal verskyn. *

Aangesien ons vanaf hierdie nommer ’n hele paar artikels slegs aanlyn sal publiseer, sal die publieke uitgawe van Die Wagtoring nie meer 32 bladsye hê nie, maar 16. Die Wagtoring word reeds in 204 tale uitgegee. Omdat die tydskrif minder bladsye het, sal dit moontlik nou in selfs meer tale vertaal kan word.

Ons hoop dat hierdie veranderinge ons in staat sal stel om meer mense met die Bybel se lewensreddende boodskap te bereik. Ons is vasbeslote om voort te gaan om ’n oorvloed insiggewende en interessante inligting te voorsien—in gedrukte vorm en aanlyn—tot voordeel van ons talle lesers wat respek het vir die Bybel en wat wil weet wat dit werklik leer.

Die uitgewers

^ par. 5 Van die artikels wat slegs aanlyn sal verskyn, is die volgende: “Vir jongmense,” wat Bybelstudieprojekte vir jongmense uiteensit, en “My Bybellesse,” ’n reeks wat ouers kan gebruik om kinders van drie jaar en jonger te onderrig.