Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE BYBEL VERANDER LEWENS

“Ek het uiteindelik ware vryheid gevind.”

“Ek het uiteindelik ware vryheid gevind.”
  • GEBORE: 1981

  • GEBOORTELAND: VERENIGDE STATE

  • GESKIEDENIS: VERLORE SEUN

MY VERLEDE:

Ek is gebore in Moundsville, ’n stil dorpie langs die Ohiorivier in die noorde van Wes-Virginië, VSA. Ek is die tweede van vier kinders, waarvan drie seuns is. Daar was dus selde ’n vervelige oomblik in ons huis. My ouers was hardwerkende, eerlike mense met ’n liefde vir ander. Ons het nooit baie geld gehad nie, maar ons het altyd die nodige gehad. Omdat my ouers Jehovah se Getuies was, het hulle hulle bes gedoen om Bybelbeginsels van kleins af by ons in te skerp.

Teen die tyd dat ek ’n adolessent was, het my hart egter reeds begin afwyk van wat ek geleer is. Ek het getwyfel of ’n lewe wat deur Bybelbeginsels gerig word, betekenisvol of bevredigend kan wees. Ek het geredeneer dat ’n mens slegs waarlik gelukkig kan wees as jy absolute vryheid het. Kort voor lank het ek opgehou om Christelike vergaderinge by te woon. Een van my broers en my suster het dieselfde opstandige weg ingeslaan. Ons ouers het alles in hulle vermoë gedoen om ons te probeer help, maar ons het hulle hulp verwerp.

Ek het destyds nie besef dat die sogenaamde vryheid wat ek begeer het, my in die kloue van verslawing sou laat beland nie. Terwyl ek eendag van die skool af huis toe gestap het, het ’n vriend my ’n sigaret aangebied. Ek het dit geneem. Daarna het ek ja gesê vir baie ander skadelike gebruike. Mettertyd het ek dwelms en alkohol begin misbruik en ’n onsedelike lewe begin lei. Oor die volgende paar jaar het ek ook met sterker dwelms begin eksperimenteer en aan baie van hierdie dwelms verslaaf geraak. My verslawings het ’n al hoe sterker houvas op my gekry, en daarom het ek dwelms begin verkoop om geld in die hande te kry.

Hoewel ek hard probeer het om my gewete te ignoreer, het dit my gereeld daaraan herinner dat my lewenswyse verkeerd is. Maar ek het gevoel dat die skade klaar aangerig is en dat dit te laat is om te verander. Al was ek by partytjies en konserte omring deur mense, het ek dikwels alleen en terneergedruk gevoel. Soms het ek gedink aan watter ordentlike en goeie mense my ouers is en gewonder hoe ek so ver afgedwaal het.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET:

Hoewel ek gedink het dat daar geen hoop vir my is nie, het ander nie so gedink nie. In 2000 het my ouers my genooi om ’n streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies by te woon. Ek het teësinnig saamgegaan. Tot my verbasing het my broer en suster wat afgedwaal het, dit ook bygewoon.

Terwyl ek by die byeenkoms was, het ek onthou dat ek omtrent ’n jaar tevore ’n rockkonsert by dieselfde plek bygewoon het. Die kontras wat ek gesien het, het my diep getref. By die konsert was daar oral rommel gestrooi en was die lug vol sigaretrook. Die meeste van die konsertgangers was onvriendelik, en die musiek het ’n neerdrukkende boodskap gehad. Maar by die byeenkoms was ek omring deur mense wat waarlik gelukkig was—mense wat my hartlik verwelkom het, al het ek hulle jare laas gesien. Die fasiliteit was skoon, en die toesprake het ’n boodskap van hoop oorgedra. Toe ek die positiewe uitwerking van Bybelwaarheid sien, het ek gewonder waarom ek dit ooit verwerp het!—Jesaja 48:17, 18.

“Die Bybel het my die krag gegee om op te hou om dwelms te gebruik en te verkoop en om ’n produktiewe lid van die gemeenskap te word”

Onmiddellik ná die byeenkoms het ek besluit om terug te keer na die Christengemeente. My broer en suster is ook geraak deur wat hulle by daardie byeenkoms ondervind het en het ook besluit om terug te keer. Ons al drie het ’n persoonlike Bybelstudie aanvaar.

’n Bybelvers wat ’n besondere indruk op my gemaak het, is Jakobus 4:8, wat sê: “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom.” Ek het besef dat ek my lewe in orde sou moes bring as ek nader aan God wou kom. Ek moes onder andere rook en dwelms opgee en ophou om alkohol te misbruik.—2 Korintiërs 7:1.

Ek het ou vriendskappe vervang met nuwe vriendskappe—onder Jehovah se aanbidders. Die Christen- ouer man wat die Bybel met my gestudeer het, het my werklik baie gehelp. Hy het my gereeld gebel en ingeloer om te sien hoe dit met my gaan. Tot vandag toe is hy een van my beste vriende.

In die lente van 2001 het ek my toewyding aan God deur waterdoop gesimboliseer, en my broer en suster het dieselfde gedoen. Jy kan jou net voorstel hoe verheug my ouers en getroue jonger broer was toe ons gesin uiteindelik verenig was in die aanbidding van Jehovah.

HOE EK BAAT GEVIND HET:

Ek het vroeër gedink dat Bybelbeginsels te beperkend is, maar nou beskou ek dit as ’n beskerming wat van onskatbare waarde is. Die Bybel het my die krag gegee om op te hou om dwelms te gebruik en te verkoop en om ’n produktiewe lid van die gemeenskap te word.

Ek het die voorreg om deel te wees van ’n wêreldwye broederskap van Jehovah se aanbidders. Hierdie mense het mekaar waarlik lief, en hulle is verenig in hulle aanbidding van God (Johannes 13:34, 35). Hierdie broederskap het vir my ’n baie spesiale seën meegebring—my vrou, Adrianne, wat ek innig liefhet en koester. Dit verskaf ons groot vreugde om ons Skepper saam te dien.

Ek lewe nie meer net vir myself nie, maar ek dien nou as ’n voltydse bedienaar sodat ek mense kan leer hoe hulle ook by God se Woord kan baat vind. Hierdie werk bring die allergrootste geluk mee. Ek kan met die volste oortuiging sê dat die Bybel my lewe verander het. Ek het uiteindelik ware vryheid gevind.