Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die opstanding van Jesus beteken die lewe!

Die opstanding van Jesus beteken die lewe!

JESUS se opstanding is nie net ’n enkele gebeurtenis in die ou tyd wat vandag vir ons van min betekenis is nie. Die apostel Paulus het gewys hoe betekenisvol dit is toe hy geskryf het: “Christus [is] uit die dode opgewek, die eersteling van dié wat ontslaap het. Want aangesien die dood deur ’n mens is, is die opstanding van die dooies ook deur ’n mens. Want net soos almal in Adam sterf, só sal almal ook in die Christus lewend gemaak word.”—1 Korintiërs 15:20-22.

Jesus is in 33 HJ op 16 Nisan opgewek, die dag van die jaar waarop die Jode die eerstelinge van die eerste graanoes by die tempelheiligdom in Jerusalem as ’n offer vir Jehovah God aangebied het. Deur Jesus die eersteling te noem, het Paulus geïmpliseer dat ander individue ook uit die dood opgewek sou word.

Wat Paulus vervolgens sê, verduidelik wat deur Jesus se opstanding moontlik gemaak is. “Aangesien die dood deur ’n mens is”, het Paulus gesê, “is die opstanding van die dooies ook deur ’n mens.” Omdat ons sonde en onvolmaaktheid van Adam geërf het, sterf ons almal. Maar omdat Jesus sy volmaakte menselewe as ’n losprys gegee het, het hy dit vir die mensdom moontlik gemaak om deur middel van die opstanding uit slawerny aan sonde en die dood bevry te word. Paulus som die saak goed op in Romeine 6:23: “Die loon wat die sonde betaal, is die dood, maar die gawe wat God gee, is die ewige lewe deur Christus Jesus, ons Here.”

Jesus het self verduidelik wat sy dood en opstanding vir ons beteken. Hy het met verwysing na homself gesê: “Die Seun van die mens [moet] opgehef word, sodat elkeen wat in hom glo, die ewige lewe kan hê. Want God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê.”—Johannes 3:14-16.

Stel jou net voor—eindelose lewe sonder pyn, lyding of verdriet! (Openbaring 21:3, 4). Wat ’n wonderlike vooruitsig! Een geleerde het dit so gestel: “Terwyl begraafplase ’n mens dalk daaraan herinner dat die lewe kortstondig is, verseker die opstanding dat die dood kortstondig sal wees.” Ja, die opstanding van Jesus beteken die lewe!