Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 KOM NADER AAN GOD

“Hou aan vra, en vir julle sal gegee word”

“Hou aan vra, en vir julle sal gegee word”

“Here, leer ons hoe om te bid” (Lukas 11:1). Dit was ’n versoek wat een van Jesus se dissipels aan hom gerig het. As deel van sy antwoord het Jesus twee illustrasies vertel wat ons leer hoe om te bid sodat God ons sal verhoor. As jy al gewonder het of God na jou gebede luister, sal jy baat vind by Jesus se antwoord.—Lees Lukas 11:5-13.

Die eerste illustrasie handel hoofsaaklik oor die persoon wat bid (Lukas 11:5-8). In die verhaal ontvang ’n man laat in die aand ’n gas en het hy geen kos om vir hom te gee nie. Vir die gasheer is die saak dringend. Al is dit laat in die nag, gaan hy na ’n vriend se huis om brood te leen. Aanvanklik is die vriend teësinnig om op te staan omdat sy gesin by hom vas aan die slaap is. Maar die vasbeslote gasheer hou aan om onbeskroomd te vra totdat sy vriend uiteindelik opstaan en vir hom gee wat hy nodig het. *

Wat leer die illustrasie ons oor gebed? Jesus sê vir ons dat ons in gebed moet volhard—ons moet aanhou vra, soek en klop (Lukas 11:9, 10). Waarom? Impliseer Jesus dat ons as ’t ware hamer teen die deur van ’n teësinnige God wanneer ons bid? Nee. Jesus se punt is dat God, in teenstelling met die teësinnige vriend, gretig is om die gepaste versoeke toe te staan van diegene wat in geloof bid. Ons toon sulke geloof deur te volhard in gebed. Deur herhaaldelik te vra, toon ons dat ons werklik nodig het wat ons vra en dat ons waarlik glo dat God ons versoek kan toestaan—as dit sy wil is.—Markus 11:24; 1 Johannes 5:14.

Die tweede illustrasie handel hoofsaaklik oor die “Hoorder van die gebed”, Jehovah (Psalm 65:2). Jesus vra: “Watter vader onder julle sal, as sy seun ’n vis vra, hom miskien ’n slang in plaas van ’n vis gee? Of as hy ook ’n eier vra, hom ’n skerpioen gee?” Die antwoord is voor die hand liggend—geen liefdevolle vader gee sy kinders skadelike dinge nie. Dan verduidelik Jesus die toepassing van die illustrasie: As onvolmaakte mensevaders “goeie gawes” aan hulle kinders gee, “hoeveel te meer sal die Vader in die hemel heilige gees”—die allerbeste gawe—gee aan sy aardse kinders wat hom vra! *Lukas 11:11-13; Matteus 7:11.

God is gretig om die gepaste versoeke toe te staan van diegene wat in geloof bid

Wat leer hierdie illustrasie ons omtrent Jehovah, die “Hoorder van die gebed”? Jesus nooi ons om Jehovah as ’n liefdevolle Vader te beskou wat gretig is om in die behoeftes van sy kinders te voorsien. Gevolglik kan Jehovah se aanbidders die vrymoedigheid hê om hom met die versoeke van hulle hart te nader. En omdat hulle weet dat hy hulle belange op die hart dra, kan hulle sy antwoord op hulle versoek geredelik aanvaar, al is dit nie die antwoord wat hulle verwag het nie. *

Voorgestelde Bybelleesgedeelte vir April

Lukas 7–21

^ par. 4 Jesus meld werklike gewoontes en gebruike in sy illustrasie. Die Jode het gasvryheid as ’n heilige plig beskou. ’n Gesin het net genoeg brood vir ’n dag gebak, en daarom was dit iets algemeens om brood te leen as die voorraad opgeraak het. En as hulle arm was, het die hele gesin in een vertrek op die vloer geslaap.

^ par. 6 Jesus het dikwels ’n “hoeveel te meer”-redenasie gebruik—waarin hy eers die mindere en dan die meerdere noem. ’n Geleerde verduidelik: “Die redenasie is: ‘As A waar is, hoeveel te meer sal B dan ook waar wees.’”

^ par. 7 Om meer te leer oor hoe om te bid sodat God ons sal verhoor, sien hoofstuk 17 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.