KOM NADER AAN GOD
“Kyk! Ek maak alles nuut”
Wil jy graag hê dat jy en jou gesin goeie gesondheid en ’n lang lewe moet geniet? Smag jy na lewe in ’n wêreld waar pyn, lyding en die dood tot die verlede sal behoort? So ’n wêreld is nie ’n versinsel van die verbeelding nie. Inteendeel, ’n regverdige nuwe wêreld sal binnekort ’n werklikheid wees, want dit is Jehovah God se voorneme. Kyk hoe die verwesenliking van sy voorneme beskryf word in Openbaring 21:3-5.—Lees.
“[God] sal elke traan van hulle oë afvee” (Openbaring 21:4). Watter soort trane sal hy afvee? Nie trane van vreugde of die trane wat ons oë beskerm nie. God se belofte verwys na trane wat deur lyding en droefheid veroorsaak word. God sal hierdie trane nie net afvee nie; hy sal dit heeltemal wegneem deur die oorsake daarvan—lyding en droefheid—te verwyder.
“Die dood sal daar nie meer wees nie” (Openbaring 21:4). Is daar enigiets wat meer trane veroorsaak as ons vyand die dood? Jehovah sal gehoorsame mense uit die greep van die dood verlos. Hoe? Deur die eintlike oorsaak van die dood, sonde wat van Adam geërf is, uit die weg te ruim (Romeine 5:12). Jehovah sal gehoorsame mense op grond van Jesus se losprysoffer tot volmaaktheid verhef. * Dan sal die laaste vyand, die dood, “tot niet gemaak word” (1 Korintiërs 15:26). Getroue mense sal kan lewe soos God wou hê hulle moet lewe—vir ewig in volmaakte gesondheid.
“Ook . . . pyn sal daar nie meer wees nie” (Openbaring 21:4). Watter soort pyn sal daar nie meer wees nie? Al die verstandelike, emosionele en fisiese pyn wat die gevolg is van sonde en onvolmaaktheid en wat die lewe vir tallose miljoene mense onaangenaam gemaak het.
’n Lewe sonder trane, die dood en pyn sal binnekort ’n werklikheid wees. ‘Maar waar?’ vra jy miskien. ‘Belowe God dalk lewe in die hemel?’ Nee. Kom ons kyk waarom nie. Eerstens, die belofte word ingelei met die woorde “die tent van God is by die mensdom”, en die mensdom lewe op die aarde (Openbaring 21:3). Tweedens, die belofte beskryf ’n wêreld waar ‘die dood nie meer sal wees nie’—’n wêreld waar die dood voorheen bestaan het, maar uit die weg geruim sal word. Die dood het nooit in die hemel bestaan nie, maar dit bestaan al lank op die aarde. Dit is dus duidelik dat God se belofte dat die mens ’n beter lewe sal geniet, hier op die aarde vervul sal word.
God sal al die trane afvee wat weens lyding en droefheid vloei
Jehovah wil hê dat ons sy belofte van ’n regverdige nuwe wêreld moet glo. Net nadat hy die seëninge beskryf het wat gaan kom, gee hy die versekering dat sy belofte vervul sal word deur te sê: “Kyk! Ek maak alles nuut.” Dan voeg hy by: “Hierdie woorde is betroubaar en waaragtig” (Openbaring 21:5). Jy kan gerus leer hoe jy en jou geliefdes onder die gelukkige aanbidders kan wees wat sal sien hoe God se belofte ’n glorieryke werklikheid word.
Voorgestelde Bybelleesgedeelte vir Desember
1 Petrus 1-5; 2 Petrus 1-3; 1 Johannes 1-5; 2 Johannes 1-13; 3 Johannes 1-14; Jud 1-25–Openbaring 1-22
^ par. 5 Om meer te leer omtrent Christus se losprysoffer, sien hoofstuk 5 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.