Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Wat was die aalwyn wat in Bybeltye gebruik is?

Aalwyn is van die adelaarsboom verkry

Die Bybel sê dat aalwyn gebruik is om kledingstukke en beddens lekker te laat ruik (Psalm 45:8; Spreuke 7:17; Hooglied 4:14). Die aalwyn waarvan die Bybel praat, is waarskynlik verkry van die adelaarsboom (uit die geslag Aquilaria). Wanneer die boom se hout verrot, skei dit welriekende olie en gom af. Die hout is tot poeier gemaal, wat dan as “aalwyn” verkoop is.

Die Bybel vergelyk die tente van Israel met “aalwynplante wat Jehovah geplant het” (Numeri 24:5, 6). Dit is moontlik weens die vorm van die adelaarsboom, wat tot 30 meter hoog kan word en wyd uitgespreide takke het. Hierdie boom kom nie vandag in Israel voor nie, maar volgens A Dictionary of the Bible “beteken dit nie noodwendig dat hierdie en ander bome wat vandag nêrens in [die streek] voorkom nie, nooit gekweek is in die Jordaanvallei, wat destyds vrugbaar en dig bevolk was nie”.

Watter offers was aanneemlik by die tempel in Jerusalem?

Hierdie kleiseël uit die tempel in Jerusalem is sowat 2 000 jaar oud

Volgens God se Wet moes al die offerandes wat by die tempel gebring is, van die beste gehalte moontlik wees. God het nie offerandes aanvaar waaraan daar ’n gebrek was nie (Eksodus 23:19; Levitikus 22:21-24). Volgens die Joodse skrywer Filo van die eerste eeu HJ het die priesters destyds die diere “van kop tot tone” ondersoek om seker te maak dat hulle “sonder enige smet of gebrek” is.

Die geleerde E.P. Sanders sê dat die tempelbeamptes moontlik “betroubare verkopers van offerdiere toestemming gegee het om slegs diere en voëls te verkoop wat vooraf deur die priesters ondersoek is. Die verkoper moes dan vir die koper die een of ander soort betaalbewys gee om aan te dui dat die offerdier sonder gebrek is.”

In 2011 het argeoloë so ’n betaalbewys in die omgewing van die tempel gevind—’n kleiseël wat so groot soos ’n muntstuk is en wat dateer uit die tydperk tussen die eerste eeu VHJ en 70 HJ. Die twee Aramese woorde daarop is weergegee met “Smetloos vir God”. Tempelbeamptes het vermoedelik hierdie seëls vasgeheg aan produkte wat tydens rituele gebruik sou word of aan diere wat geoffer sou word.