Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | BESTAAN SATAN WERKLIK?

Moet ons Satan vrees?

Moet ons Satan vrees?

Koolstofmonoksied is onsigbaar en gevaarlik—net soos Satan

Dit is baie moeilik om te bespeur. Omdat dit kleurloos en reukloos is, kan dit sy slagoffers onverwags oorweldig. Moontlik meer as die helfte van alle sterftes weens vergiftiging regoor die wêreld kan teruggevoer word tot hierdie een gifstof: koolstofmonoksied. Maar daar is geen rede om paniekerig te raak nie. Daar is maniere om hierdie gas te bespeur en jou te beskerm. Baie mense installeer wyslik waarskuwingstoestelle en slaan dan noukeurig ag op enige waarskuwingseine.

Soos koolstofmonoksied, is Satan onsigbaar, baie moeilik vir mense om te bespeur en uiters gevaarlik. Maar God het ons nie sonder hulp gelaat nie. Jy hoef Satan nie te vrees as jy van die volgende voorsienings van God gebruik maak nie.

Die vermoë om te kies. Jakobus 4:7 sê vir ons: “Staan die Duiwel teë, en hy sal van julle af wegvlug.” Hoewel Satan magtig is, kan hy jou nie dwing om dinge te doen wat jy nie wil doen nie. Jy het ’n keuse. Eerste Petrus 5:9 sê: “Weerstaan hom [die Duiwel], vas in die geloof.” Onthou dat Satan Jesus verlaat het nadat Jesus die drie versoekings ferm weerstaan het (Matteus 4:11). Jy kan ook kies om Satan se aanvalle te weerstaan.

Vriendskap met God. Jakobus 4:8 spoor ons aan: “Kom nader aan God.” Jehovah self nooi jou om ’n hegte vriendskap met hom aan te knoop. Hoe kan jy dit doen? Die beste manier om daarmee te begin, is deur meer omtrent hom uit die Bybel te leer (Johannes 17:3). Wat jy omtrent Jehovah leer, sal jou beweeg om hom lief te hê, en hierdie liefde sal jou motiveer om sy wil te doen (1 Johannes 5:3). Hoe sal jou hemelse Vader reageer wanneer jy nader aan hom kom? Jakobus sê verder: “[God] sal nader aan julle kom.”

Jehovah stel geestelike voorsienings beskikbaar om jou te beskerm

Die belofte van beskerming. Spreuke 18:10 sê: “Die naam van Jehovah is ’n sterk toring. Die regverdige hardloop daarin en word beskerm.” Dit beteken natuurlik nie dat God se persoonlike naam ’n gelukbringer is nie. Dit beteken eerder dat diegene wat God se naam werklik respekteer, hom enige tyd om beskerming kan vra.

’n Praktiese voorbeeld. Handelinge 19:19 vertel ons iets insiggewends omtrent pas bekeerde Christene in Efese: “Heelparty van dié wat toorkunste beoefen het, het hulle boeke bymekaargebring en voor almal verbrand. En hulle het die waarde daarvan bereken en gevind dat dit vyftigduisend silwerstukke werd was.” * Daardie Christene het alle voorwerpe vernietig wat met spiritisme verband gehou het, ongeag hoeveel dit werd was. Hierdie voorbeeld kan ons vandag baie help. Hierdie wêreld is deurtrek van die okkulte en spiritisme. Selfs spiritistiese voorwerpe en gebruike wat onskuldig lyk, kan demone lok. Dit is noodsaaklik om sulke dinge heeltemal te vermy, ongeag wat dit verg.—Deuteronomium 18:10-12.

Rogelio, wat in die eerste artikel van hierdie reeks gemeld is, het die eerste 50 jaar van sy lewe nie aan die Duiwel geglo nie. Maar toe het hy sy beskouing verander. Waarom? “Vir die eerste keer in my lewe het ek ’n Bybel gekry”, vertel Rogelio. “Bybelkennis het my oortuig dat die Duiwel werklik bestaan. Dieselfde kennis help my nou om sy invloed te weerstaan.”

“Bybelkennis het my oortuig dat die Duiwel werklik bestaan. Dieselfde kennis help my nou om sy invloed te weerstaan”

Wil jy graag die dag beleef wanneer Satan nie meer bestaan nie? Jy kan. Die Bybel voorspel ’n tyd in die toekoms wanneer die Duiwel, wat soveel mense mislei, “in die poel van vuur en swael geslinger” sal word (Openbaring 20:10). Fisiese vuur en swael kan ’n onsigbare geesskepsel natuurlik geen skade aandoen nie. Daarom moet die poel van vuur ewige vernietiging voorstel. Satan sal vir ewig uit die weg geruim wees. Wat ’n vreugdevolle tyd sal dit tog vir liefhebbers van God wees!

Intussen moet jy aanhou om soveel moontlik omtrent Jehovah en sy weë te leer. * Stel jou voor hoe dit sal wees om te lewe wanneer daar uiteindelik werklik gesê kan word: “Satan bestaan nie!”

^ par. 8 As die silwerstukke onder bespreking Romeinse denarii was, was die totaal gelyk aan die gesamentlike dagloon van 50 000 gewone werkers—’n aansienlike bedrag!

^ par. 11 Vir meer inligting oor Satan en spiritisme, sien hoofstuk 10 van die boek Wat leer die Bybel werklik? Jy kan enigeen van Jehovah se Getuies vir ’n eksemplaar vra.