Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | HET DIE WETENSKAP DIE BYBEL VERVANG?

Die wetenskap is beperk

Die wetenskap is beperk

In onlangse tye is ’n aantal boeke uitgegee wat die beskouings van die sogenaamde nuwe ateïste uiteensit. Hierdie publikasies het baie mense se aandag getrek en het talle besprekings en debatte uitgelok. Volgens die neurowetenskaplike David Eagleman het party lesers van hierdie publikasies die indruk gekry dat wetenskaplikes dink dat hulle al die antwoorde het. Hy het egter geskryf: “Goeie wetenskaplikes is altyd onbevooroordeeld, en die geskiedenis van die wetenskap is vol verrassings.”

Deur die eeue heen het begaafde wetenskaplikes wel verbasende deurbrake gemaak in hulle soeke na antwoorde op ingewikkelde vrae oor die natuur. Maar party het in die proses ook ernstige foute gemaak. Isaac Newton was een van die grootste wetenskaplikes van alle tye. Hy het getoon hoe swaartekrag die planete, sterre en sterrestelsels in een heelal saambind. Hy het kalkulus uitgevind, ’n vertakking van die wiskunde wat in rekenaarontwerp, ruimtevaart en kernfisika gebruik word. Maar Newton het ook alchemie bestudeer, ’n skynwetenskap wat sterrewiggelary en towerformules gebruik het in ’n poging om lood en ander metale in goud te verander.

Meer as 1 500 jaar voor Newton het die Griekse sterrekundige Ptolemeus die hemele met die blote oog bestudeer. Hy het die beweging van die planete deur die naghemel opgeteken en was ’n vaardige kartograaf. Maar hy het geglo dat die aarde die middelpunt van alles is. Die astrofisikus Carl Sagan het van Ptolemeus geskryf: “Sy [teorie] dat die aarde die middelpunt van die heelal is, is 1 500 jaar lank aanvaar; ’n herinnering dat iemand heeltemal verkeerd kan wees, al is hy baie intelligent.”

Vandag kom wetenskaplikes voor soortgelyke uitdagings te staan. Sal hulle die heelal ooit ten volle verstaan? Hoewel dit gepas is om erkenning te gee aan die vooruitgang wat in die wetenskap gemaak is en die voordele wat dit vir ons meebring, is dit ook noodsaaklik om in gedagte te hou dat dit beperk is. Die fisikus Paul Davies het gesê dat ’n soeke na ’n verklaring vir alles, ’n logiese samehangende verduideliking van hoe alles werk, gedoem is tot mislukking. Dit bevestig ’n onbetwisbare feit: Mense kan die sigbare wêreld nie volkome verstaan nie. Wanneer daar beweer word dat die wetenskap ’n verklaring kan voorsien vir alles wat bestaan, is dit dus net redelik om bedenkinge daaroor te hê.

Dit is duidelik dat die Bybel in ons behoeftes voorsien op maniere wat die wetenskap nie kan nie

Die Bybel sê die volgende oor die wonders van die natuur: “Kyk! Dít is die rande van [God se] weë, en wat ’n fluistering van ’n saak is omtrent hom gehoor!” (Job 26:14). Daar is nog baie dinge wat die mens nie kan waarneem of verstaan nie. Ja, die woorde van die apostel Paulus, wat byna 2 000 jaar gelede geskryf is, is nog geldig: “O die diepte van God se rykdom en wysheid en kennis! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en hoe onnaspeurlik sy weë!”—Romeine 11:33.