Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP

Hoe beskou God oorlog?

Hoe beskou God oorlog?

Hoe sal jy hierdie vraag beantwoord? Baie mense dink dat God oorlog goedkeur. Hulle redeneer dat hy party van sy aanbidders in die verlede beveel het om oorlog te voer, en die Bybel bevestig dit. Maar ander voer aan dat God se Seun, Jesus, sy volgelinge geleer het om hulle vyande lief te hê (Matteus 5:43, 44). Daarom redeneer hulle dat God se beskouing van oorlog op die een of ander tyd verander het en dat hy oorlog nou afkeur.

Wat dink jy? Keur God oorlog goed? Indien wel, wie se kant kies hy in hedendaagse konflikte? Die antwoorde op hierdie vrae sal dalk jou beskouing van oorlog beïnvloed. Byvoorbeeld, as jy weet dat God nie net oorlog goedkeur nie, maar ook in ’n spesifieke oorlog dieselfde kant as jy kies, sou jy waarskynlik goed voel oor jou standpunt en die vertroue hê dat jou kant sal seëvier. Hoe sou jy daarenteen voel as jy uitvind dat God die ander kant van ’n konflik ondersteun? Jy sou heel moontlik jou standpunt heroorweeg.

Maar die antwoorde kan iets selfs belangrikers beïnvloed. As jy weet hoe God oor oorlog voel, sal dit dalk ’n uitwerking hê op jou beskouing van God. As jy een van die miljoene mense is wat weens menseoorloë gely het, stel jy ongetwyfeld belang in die antwoord op die vraag: Is God, soos party glo, ’n oorlogstoker wat die lyding wat deur oorlog veroorsaak word, toelaat of selfs goedkeur, of is hy dalk net onbesorg oor die welsyn van die onderdruktes?

Jy sal dalk verbaas wees om uit te vind dat die Bybel se antwoord grootliks van hierdie opinies verskil. Wat meer is, God se beskouing van oorlog het van die ou tyd tot vandag toe dieselfde gebly. Kom ons kyk wat die Bybel sê oor God se beskouing van oorlog in die ou tyd en in die eerste eeu, toe Jesus op die aarde was. Dit sal ons help om te sien hoe God oorlog vandag beskou en of daar in die toekoms altyd oorloë sal wees.