VOLG HULLE GELOOF NA | JONATAN
’n Sterk band van vriendskap
Die geveg was verby en daar het ’n groot stilte oor die Elalaagvlakte toegesak. Terwyl die middagwind saggies deur die tente in die militêre kamp gewaai het, het koning Saul ’n vergadering met sy manne gehou. Sy oudste seun, Jonatan, was ook daar en ’n jong skaapwagter het met groot opgewondenheid sy verhaal vertel. Hierdie jong man was Dawid en hy was baie gretig en entoesiasties. Saul het met sy volle aandag geluister en aan Dawid se lippe gehang. Maar hoe het Jonatan hieroor gevoel? Hy het jare lank in Jehovah se leërmag gedien en het al baie oorwinnings behaal. Vandag se oorwinning was nie te danke aan Jonatan nie, maar eerder aan hierdie jong man. Dawid het die reus Goliat doodgemaak! Was Jonatan jaloers op al die lof wat Dawid gekry het?
Jonatan se reaksie sal jou dalk verbaas. Ons lees: “En net toe hy klaar met Saul gepraat het, het die siel van Jonatan aan die siel van Dawid verkleef geraak, en Jonatan het hom liefgekry soos sy eie siel.” Jonatan het sy eie gevegstoerusting, wat sy boog insluit, vir Dawid gegee — dit was ’n baie spesiale geskenk, aangesien Jonatan ’n baie bekende boogskutter was. En wat meer is, Jonatan en Dawid het ’n verbond gesluit, ’n plegtige belofte afgelê, wat hulle saamgebind het as vriende wat mekaar sou ondersteun. — 1 Samuel 18:1-5.
Dit is hoe een van die beste vriendskappe wat in die Bybel genoem word, begin het. Vriendskap is belangrik vir mense van geloof. As ons ons vriende goed kies en self ’n lojale vriend word wat ander ondersteun, sal ons mekaar se geloof kan versterk in hierdie liefdelose wêreld (Spreuke 27:17). Kom ons kyk nou wat ons by Jonatan oor vriendskap kan leer.
Die grondslag van vriendskap
Hoe is dit moontlik dat hulle so gou vriende kon word? Dit het te doen met die grondslag vir daardie vriendskap. Dink vir ’n oomblik aan die agtergrond. Jonatan het ’n moeilike tyd deurgemaak. Sy pa, koning Saul, het deur die jare heen verander en sy persoonlikheid het net al hoe erger geword. Saul was eers ’n nederige, gehoorsame man van geloof, maar het ’n verwaande, ongehoorsame koning geword. — 1 Samuel 15:17-19, 26.
Die verandering in Saul moes Jonatan diep ontstel het, want hy was baie lief vir sy pa (1 Samuel 20:2). Jonatan het heel moontlik gedink aan die rampspoed wat Saul oor Jehovah se uitverkore nasie kon bring. Kon die koning se ongehoorsaamheid veroorsaak dat sy onderdane die pad byster raak en so Jehovah se goedkeuring verloor? Dit was sonder twyfel ’n moeilike tyd vir ’n man van geloof soos Jonatan.
Met dit in gedagte kan ons dalk verstaan hoekom Jonatan van Dawid gehou het. Jonatan het Dawid se sterk geloof gesien. Onthou, anders as diegene in Saul se leërmag, was Dawid nie bang vir Goliat nie, al was Goliat ’n baie groot man. Hy was daarvan oortuig dat hy baie kragtiger as Goliat met al sy wapens was, omdat hy in Jehovah se naam in die geveg ingegaan het. — 1 Samuel 17:45-47.
Jonatan het jare tevore ook op dieselfde manier gedink. Hy was daarvan oortuig dat twee manne — hy en sy wapendraer — ’n hele militêre kamp kon aanval en oorwin. Hoekom? Jonatan het gesê dat niks Jehovah kan keer nie (1 Samuel 14:6). Jonatan en Dawid het baie in gemeen gehad: hulle het altwee sterk geloof in Jehovah gehad en was baie lief vir hom. Dit was die beste redes vir ’n vriendskap tussen hierdie twee manne. Al was Jonatan ’n magtige prins en amper 50 jaar oud, en Dawid ’n nederige skaapwagter en waarskynlik nog nie eers 20 jaar oud nie, het dit geen verskil gemaak nie. a
Die verbond wat hulle gesluit het, was ’n groot beskerming vir hulle vriendskap. Hoekom sê ons so? Wel, dink daaraan dat Dawid bewus was van wat Jehovah vir hom in gedagte gehad het: Hy sou die volgende koning van Israel word! Het hy dit geheim gehou en nie vir Jonatan daarvan vertel nie? Nee! ’n Goeie vriendskap soos die een wat hulle gehad het, sal sterk bly deur openhartige kommunikasie, nie geheime en leuens nie. Watter uitwerking kon dit op Jonatan gehad het toe hy uitgevind het dat Dawid koning sou word? Sê nou Jonatan het die hoop gekoester om eendag koning te word sodat hy al die slegte dinge wat sy pa gedoen het, kon regstel? Die Bybel sê nie vir ons van enige innerlike stryd wat Jonatan dalk gehad het nie; dit vertel ons net van die dinge wat regtig saak maak, Jonatan se lojaliteit en sy geloof. Hy kon sien dat Jehovah se gees met Dawid was (1 Samuel 16:1, 11-13). Daarom het Jonatan aangehou om Dawid as sy vriend te beskou, nie sy mededinger nie. Jonatan wou sien hoe dinge volgens Jehovah se wil uitwerk.
Jonatan en Dawid het albei sterk geloof in Jehovah gehad en hulle was baie lief vir hom
Daardie vriendskap was toe ’n groot seën. Wat kan ons uit Jonatan se geloof leer? Al God se knegte moet die belangrikheid van vriendskap waardeer. Ons vriende hoef nie in dieselfde ouderdomsgroep as ons te wees of dieselfde agtergrond as ons te hê nie, maar hulle kan vir ons van groot waarde wees as hulle ware geloof het. Jonatan en Dawid kon mekaar baie keer versterk en aanmoedig. En hulle sou albei hierdie hulp nodig hê, want daar het nog groter toetse vir hulle vriendskap voorgelê.
Lojaal — Aan wie?
Saul was aan die begin baie lief vir Dawid en het hom oor sy leër aangestel. Anders as Jonatan, het Saul nie lank daarna nie die slegte eienskap van jaloesie ontwikkel. Dawid het die een oorwinning na die ander teen Israel se vyande, die Filistyne, behaal. Daarom het die mense Dawid geprys en bewonder. Party van die vroue van Israel het selfs gesing: “Saul het sy duisende verslaan, en Dawid sy tienduisende.” Saul het niks daarvan gehou nie. Ons lees: “En van dié dag af het Saul Dawid voortdurend agterdogtig aangekyk” (1 Samuel 18:7, 9). Hy was bang dat Dawid die koningskap van hom sou wegneem. Dit was dwaas van Saul. Dit is waar dat Dawid geweet het dat hy Saul se opvolger sou wees, maar hy het nooit eers daaraan gedink om die plek van Jehovah se gesalfde koning in te neem terwyl die man nog geheers het nie!
Saul het gekonkel sodat Dawid in ’n geveg doodgemaak sou word, maar niks het gewerk nie. Dawid het al hoe meer oorwinnings behaal en die mense het net liewer geword vir hom en hom gerespekteer. Later het Saul vir al sy knegte en sy oudste seun vertel dat hy Dawid wil laat doodmaak en gehoop dat hulle hom hierin sou ondersteun. Stel jou voor hoe teleurgesteld Jonatan was toe hy sien hoe sy pa optree! (1 Samuel 18:25-30; 19:1). Jonatan was ’n lojale seun, maar hy was ook ’n lojale vriend. Hy moes nou kies aan wie hy lojaal sou bly. Wie sou hy kies?
Jonatan het gesê: “Laat die koning nie teen sy kneg Dawid sondig nie, want hy het nie teenoor u gesondig nie en sy werke was vir u baie voordelig. En hy het sy siel in sy palm geplaas en die Filistyn doodgemaak, sodat Jehovah ’n groot redding vir die hele Israel bewerk het. U het dit gesien, en u was bly. Waarom sou u dan teen onskuldige bloed sondig deur Dawid sonder rede te laat doodmaak?” In ’n oomblik van redelikheid, iets ongewoon vir Saul, het hy na Jonatan geluister en selfs gesweer dat hy Dawid geen leed sou aandoen nie. Maar Saul het nie sy woord gehou nie. Nadat Dawid nog oorwinnings behaal het, was Saul rasend van jaloesie en het hy Dawid met ’n spies gegooi! (1 Samuel 19:4-6, 9, 10). Maar Dawid het ontsnap en uit Saul se hof gevlug.
Moes jy al kies aan wie jy lojaal sou bly? Dit kan ’n pynlike ondervinding wees. In sulke situasies sal party mense vir jou sê dat jy altyd lojaal aan jou familie moet bly. Maar Jonatan het van beter geweet. Hoe kon hy sy pa se kant kies as Dawid ’n lojale en gehoorsame kneg van Jehovah was? Jonatan se lojaliteit aan Jehovah het sy besluit gerig. Dit is hoekom hy vir Dawid opgekom het. Maar al was Jonatan se lojaliteit aan God vir hom die belangrikste, het hy gewys dat hy ook aan sy pa lojaal was deur vir hom reguit raad te gee in plaas daarvan om vir hom te sê wat hy wou hoor. Elkeen van ons sal daarby baat vind as ons lojaal is, net soos Jonatan.
Die prys van lojaliteit
Jonatan het weer probeer om Saul te help om vrede met Dawid te maak, maar Saul wou hierdie keer nie eers na hom luister nie. Dawid het Jonatan in die geheim ontmoet en vir hom gesê dat hy vrees vir sy lewe. Hy het vir sy ouer vriend gesê: “Daar is in werklikheid maar net ’n tree tussen my en die dood!” Jonatan het ingestem om uit te vind of sy pa bereid was om vrede te maak en om dan vir Dawid te laat weet. Terwyl Dawid weggekruip het, sou Jonatan sy boog en pyle gebruik om vir hom ’n boodskap te stuur. Jonatan het net gevra dat Dawid sweer om hierdie belofte te hou: “En jy sal tot onbepaalde tyd nie jou liefderyke goedhartigheid van my huis afsny nie. Ook wanneer Jehovah al die vyande van Dawid van die oppervlak van die aarde af uitroei.” Dawid het ingestem om altyd vir Jonatan se huisgesin te sorg en hulle te beskerm. — 1 Samuel 20:3, 13-27.
Jonatan het probeer om goed van Dawid te praat, maar die koning het woedend geword. Hy het Jonatan ’n “seun van ’n opstandige diensmeisie” genoem en gesê dat sy lojaliteit aan Dawid ’n skande vir sy familie is. Hy het Jonatan sover probeer kry om net aan homself te dink toe hy gesê het: “Want al die dae dat die seun van Isai op die aarde lewe, sal jy en jou koningskap nie stewig gevestig word nie.” Maar Jonatan het hom nie laat ompraat nie. Hy het weer gepleit: “Waarom moet hy doodgemaak word? Wat het hy gedoen?” Saul het ’n woedeuitbarsting gehad! Al was hy oud, was hy nog steeds ’n magtige vegter. Hy het sy seun met ’n spies gegooi! Al kon hy baie goed met ’n spies gooi, het hy misgegooi. Jonatan was diep seergemaak en verneder, en is toe baie kwaad daar weg. — 1 Samuel 20:24-34.
Jonatan het nie sy eie belange eerste gestel nie
Die volgende oggend het Jonatan na die veld uitgegaan naby waar Dawid weggekruip het. Soos hulle ooreengekom het, het hy ’n pyl afgeskiet sodat Dawid kon weet dat Saul hom nog steeds wou doodmaak. Toe het Jonatan sy dienaar na die stad teruggestuur. Hy en Dawid was nou alleen en kon vir ’n kort rukkie met mekaar praat. Hulle het altwee gehuil en Jonatan moes sy jong vriend groet. En so het Dawid se nuwe lewe as ’n vlugteling begin. — 1 Samuel 20:35-42.
Onder hierdie moeilike omstandighede, het Jonatan bewys dat hy lojaal was, en nie selfsugtig nie. Satan, die vyand van alle getroue mense, sou beslis wou sien hoe Jonatan in Saul se voetstappe volg en sy eie ambisies vir mag en heerlikheid eerste stel. Onthou, Satan hou daarvan om mense te kry om net aan hulleself te dink. Hy het dit met ons eerste ouers, Adam en Eva, reggekry (Genesis 3:1-6). Maar hy het dit nie met Jonatan reggekry nie. Hoe frustrerend moes dit tog nie vir Satan gewees het nie! Sal jy soortgelyke versoekings weerstaan? Ons lewe in ’n tyd waar selfsug baie algemeen is (2 Timoteus 3:1-5). Sal ons uit Jonatan se voorbeeld leer, en lojaal en onselfsugtig soos hy wees?
“Jy was vir my baie lieflik”
Saul se haat vir Dawid het ’n obsessie geword. Jonatan het hulpeloos toegekyk hoe sy pa al hoe meer soos ’n mal mens optree, sy leër bymekaarmaak en deur die hele land rondstuur net om een onskuldige man dood te maak (1 Samuel 24:1, 2, 12-15; 26:20). Het Jonatan ’n deel hieraan gehad? Dit is interessant dat die Bybel nêrens van hom praat wanneer dit by daardie onnodige en verkeerde kampanjes kom nie. Jonatan se lojaliteit aan Jehovah, aan Dawid en aan sy eie belofte van vriendskap, het so iets onmoontlik gemaak.
Sy gevoelens vir sy jong vriend het nooit verander nie. Na ’n ruk het hy ’n manier gevind om Dawid weer te ontmoet. Dit was in Hores, wat “beboste plek” beteken. Hores was in ’n woeste bergstreek waarskynlik ’n paar kilometer suidoos van Hebron. Hoekom het Jonatan dit gewaag om hierdie vlugteling te gaan ontmoet? Die Bybel sê vir ons dat hy gegaan het met die doel om Dawid se hand te versterk ‘met betrekking tot Jehovah’ (1 Samuel 23:16). Hoe het Jonatan dit gedoen?
Jonatan het vir sy jong vriend gesê: “Moenie bang wees nie.” Toe het hy hom met hierdie woorde gerusgestel: “Die hand van my vader Saul sal jou nie vind nie.” Hoekom kon hy hom daardie gerusstelling gee? As gevolg van Jonatan se sterk geloof dat Jehovah se beloftes waar sal word. Hy het verder gesê: “Jy sal koning oor Israel wees.” Die profeet Samuel het hierdie woorde reeds jare vroeër in opdrag van Jehovah gesê, en Jonatan het Dawid nou daaraan herinner dat Jehovah se woord altyd betroubaar is. En hoe het Jonatan sy eie toekoms gesien? “Ek sal tweede onder jou wees.” Wat ’n nederige man was hy tog! Hy was daarmee tevrede om onder hierdie man te dien wat 30 jaar jonger as hy was en om sy regterhand te wees! Toe het Jonatan gesê: “My vader Saul weet dit ook” (1 Samuel 23:17, 18). Saul het in sy hart geweet dat hy nie ’n kans gestaan het teen die man wat Jehovah gekies het om die volgende koning te wees nie!
In die jare daarna het Dawid seker baie keer met ’n glimlag aan daardie ontmoeting teruggedink. Dit was ongelukkig die laaste keer wat hulle mekaar gesien het, en Jonatan kon toe nooit Dawid se regterhand word nie.
Jonatan het saam met sy pa teen die Filistyne gaan veg, wat openlik vyande van Israel was. Hy kon met ’n goeie gewete saam met sy pa gaan veg, want hy het nie toegelaat dat sy pa se sonde met sy eie diens aan Jehovah inmeng nie. Soos altyd het hy moedig en lojaal geveg, maar dinge het nie goed gegaan vir Israel nie. Saul was so goddeloos dat hy selfs by spiritisme betrokke geraak het, iets wat onder God se Wet die doodstraf verdien het. Jehovah het Saul nie meer geseën nie. Drie van Saul se seuns is in die geveg doodgemaak, en Jonatan was een van hulle. Saul is gewond en het homself doodgemaak. — 1 Samuel 28:6-14; 31:2-6.
Jonatan het gesê: “Jy sal koning oor Israel wees, en ek sal tweede onder jou wees.” — 1 Samuel 23:17
Dawid se hart was gebreek. Daardie goedhartige man was selfs hartseer oor Saul, wat sy lewe vir hom so moeilik gemaak het! Dawid het ’n klaaglied oor Saul en Jonatan geskryf. Die mooiste woorde wat Dawid geskryf het, was seker hierdie woorde oor sy geliefde raadgewer en vriend: “Ek is ontsteld oor jou, my broer Jonatan, jy was vir my baie lieflik. Jou liefde was vir my wonderliker as die liefde van vroue.” — 2 Samuel 1:26.
Dawid het nooit van sy belofte aan Jonatan vergeet nie. Jare later het Dawid Jonatan se gestremde seun, Mefiboset, laat haal en vir hom gesorg (2 Samuel 9:1-13). Dawid het beslis baie by Jonatan geleer oor lojaliteit, eer en sy gewilligheid om getrou aan ’n vriend te bly selfs wanneer dit baie moeilik was. Is dit lesse wat ons ook kan leer? Kan ons vriende soek wat soos Jonatan is? Kan ons die soort vriend wees wat Jonatan was? As ons ons vriende help om hulle geloof in Jehovah te versterk, as ons ons lojaliteit aan God eerste stel en as ons lojaal bly in plaas daarvan om ons eie belange te soek, sal ons die soort vriend wees wat Jonatan was. En ons sal sy geloof navolg.
a Ons lees vir die eerste keer van Jonatan in die Bybel waar dit praat van die begin van Saul se heerskappy. Jonatan was die hoof van ’n leër en moes dus ten minste 20 jaar oud gewees het (Numeri 1:3; 1 Samuel 13:2). Saul het 40 jaar lank regeer. Daarom was Jonatan omtrent 60 jaar oud toe Saul gesterf het. Dawid was 30 jaar oud toe Saul gesterf het (1 Samuel 31:2; 2 Samuel 5:4). Dit beteken dat Jonatan blykbaar sowat 30 jaar ouer as Dawid was.