Spring na inhoud

Wat is die poel van vuur? Is dit dieselfde as die hel of Gehenna?

Wat is die poel van vuur? Is dit dieselfde as die hel of Gehenna?

Die Bybel se antwoord

 Die poel van vuur is ’n simbool van ewige vernietiging. Dit is dieselfde as Gehenna, maar dit verskil van die hel, wat die gemeenskaplike graf van die mensdom is.

Nie ’n letterlike poel nie

 Die vyf Bybelverse wat “die poel van vuur” meld, toon dat dit ’n simbool is, nie ’n letterlike poel nie (Openbaring 19:20; 20:10, 14, 15; 21:8). Die volgende word in die poel van vuur gewerp:

’n Simbool van ewige vernietiging

 Die Bybel sê van die poel van vuur: “Dit beteken die tweede dood” (Openbaring 20:14; 21:8). Die eerste soort dood wat in die Bybel gemeld word, is die gevolg van Adam se sonde. Hierdie dood kan deur die opstanding ongedaan gemaak word en sal uiteindelik deur God uit die weg geruim word.—1 Korintiërs 15:21, 22, 26.

Daar is geen bevryding uit die simboliese poel van vuur nie

 Die poel van vuur stel ’n ander, of tweede, soort dood voor. Hoewel dit ook ’n toestand van algehele onbedrywigheid voorstel, is dit anders, want die Bybel sê niks oor ’n opstanding uit die tweede dood nie. Die Bybel sê byvoorbeeld dat Jesus “die sleutels van die hel en van die dood” het, wat toon dat hy die mag het om mense te bevry uit die dood wat deur Adam se sonde veroorsaak is (Openbaring 1:18; 20:13, King James Version). Maar nie Jesus of enigiemand anders het ’n sleutel tot die poel van vuur nie. Hierdie simboliese poel stel ewige straf in die vorm van permanente vernietiging voor.—2 Tessalonisense 1:9.

Dieselfde as Gehenna, die Hinnomvallei

 Gehenna (Grieks, geʹen·na) word 12 keer in die Bybel gemeld. Soos die poel van vuur, is dit ’n simbool van ewige vernietiging. Hoewel party vertalings hierdie woord as “hel” weergee, verskil Gehenna van die hel (Hebreeus sjeʼoolʹ, Grieks haiʹdes).

Die Hinnomvallei

 Die woord “Gehenna” beteken letterlik “Hinnomvallei”, wat na ’n vallei net buite Jerusalem verwys. In Bybeltye het die stadsbewoners hierdie vallei as ’n vullishoop gebruik. Hulle het ’n vuur daar aan die gang gehou om vullis te vernietig; wurms het alles verteer wat nie deur die vuur verbrand is nie.

 Jesus het Gehenna as ’n simbool van ewige vernietiging gebruik (Matteus 23:33). Hy het gesê dat die “wurm nie doodgaan en die vuur nie geblus word” in Gehenna nie (Markus 9:47, 48). Met hierdie woorde het hy gesinspeel op die toestande in die Hinnomvallei en ook op die profesie in Jesaja 66:24, wat sê: “Hulle sal uitgaan en die lyke aanskou van die mense wat teen my oortree het; want die wurms op hulle sal nie sterf nie en hulle vuur sal nie uitgeblus word nie.” Jesus se illustrasie beskryf nie foltering nie, maar algehele vernietiging. Die wurms en vuur verteer karkasse, of dooie liggame, nie lewende mense nie.

 Die Bybel bevat geen aanduiding dat daar enige terugkeer uit Gehenna is nie. “Die poel van vuur” en “die vurige Gehenna” stel albei permanente, ewige vernietiging voor.—Openbaring 20:14, 15; 21:8; Matteus 18:9.

Hoe ‘sal hulle dag en nag vir ewig en altyd gepynig word’?

 As die poel van vuur ’n simbool van vernietiging is, waarom sê die Bybel dan dat die Duiwel, die wilde dier en die valse profeet wat daarin is, ‘dag en nag vir ewig en altyd gepynig sal word’? (Openbaring 20:10). Kyk na vier redes waarom hierdie pyniging nie letterlike foltering is nie:

  1.   As die Duiwel vir ewig gefolter sal word, moet hy vir ewig aan die lewe gehou word. Maar die Bybel sê dat hy tot niet gemaak, of uitgewis, sal word.—Hebreërs 2:14.

  2.   Ewige lewe is ’n gawe van God, nie ’n straf nie.—Romeine 6:23.

  3.   Die wilde dier en die valse profeet is simbole en kan nie letterlik gefolter word nie.

  4.   Die konteks van die Bybel dui aan dat die pyniging van die Duiwel ewige bedwang of vernietiging is.

 Die woorde wat in die Bybel vir “gepynig” en “pyniging” gebruik word, kan ook “’n toestand van bedwang” beteken. Byvoorbeeld, die Griekse woord vir “pynigers” wat in Matteus 18:34 gebruik word, word in baie vertalings met “tronkbewaarders” weergegee, wat die verband tussen die woorde “pyniging” en “bedwang” toon. Ook in die parallelle verslae in Matteus 8:29 en Lukas 8:30, 31 word “pynig” gelyk gestel met “die afgrond”, ’n figuurlike plek van algehele onbedrywigheid of die dood (Romeine 10:7; Openbaring 20:1, 3). Trouens, die boek Openbaring gebruik die woorde “gepynig” en “pyniging” ’n hele paar keer in simboliese sin.—Openbaring 9:5; 11:10; 18:7, 10.