Spring na inhoud

Getuies van plan om wêreldhoofkwartier te verskuif

Getuies van plan om wêreldhoofkwartier te verskuif

In Julie 2009 het Jehovah se Getuies ’n stuk grond in die noorde van die staat New York gekoop, en hulle is van plan om hulle wêreldhoofkwartier te verskuif. Die eiendom van 102 hektaar is ongeveer 80 kilometer noordwes van die bestaande fasiliteite in Brooklyn, New York, waar dit al sedert 1909 is.

Ongeveer 800 Getuies sal by hierdie nuwe fasiliteit woon en werk, wat ’n kantoorgebou, ’n diensgebou en vier woongeboue sal insluit. ’n Beskeie museum wat die hedendaagse geskiedenis van Jehovah se Getuies dokumenteer, word ook beplan.

Die fasiliteit sal 18 hektaar van die aangekoopte eiendom beslaan, wat die omliggende woud en vleilande onontwikkeld sal laat. Die tuinaanleg sal nie enige groot grasperke insluit nie. Dit sal eerder by die terrein se bosryke landskap inpas.

Argitekte het die geboue ontwerp om energie en hulpbronne te bespaar, wat die minste moontlike impak op die omgewing en lae bedryfskoste tot gevolg sal hê. Byvoorbeeld, die dakke van die geboue sal bedek word met geharde plante wat min instandhouding verg, om die afloop van reën te verminder sowel as om die temperatuur in die geboue te stabiliseer. Die ontwerp van die kantore benut natuurlike lig. Waterbesparing is ook ’n prioriteit.

Wat het tot hierdie beplande skuif aanleiding gegee? Takkantore van Jehovah se Getuies in ander wêrelddele help nou om Bybels en Bybellektuur te druk, iets wat voorheen uitsluitlik in Brooklyn gedoen is. In 2004 is die druk- en versendingsafdelings in die Verenigde State verskuif na Wallkill, New York, omtrent 145 kilometer noordwes van Brooklyn.

Koste was ook ’n faktor. Dit is duur om die fasiliteite in Brooklyn te bedryf en in stand te hou. Deur na ’n kompakte fasiliteit te verskuif, kan die Getuies fondse beter benut om hulle Bybelonderrigtingswerk te ondersteun.

’n Omgewingstudie moet eers gedoen word voordat finale permitte toegestaan kan word. As alles goed verloop, sal die bouwerk in 2013 begin en binne vier jaar voltooi word.

Benewens die drukkery in Wallkill, New York, het Jehovah se Getuies ’n onderrigsentrum in Patterson, New York. Die organisasie het takkantore in baie lande. Daar is wêreldwyd meer as sewe en ’n half miljoen Getuies.