Spring na inhoud

Spesiale byeenkomste van Jehovah se Getuies in sewe lande

Spesiale byeenkomste van Jehovah se Getuies in sewe lande

Jehovah se Getuies het onlangs spesiale byeenkomste in Brasilië, Costa Rica, Hongkong, Ierland, Israel, Nieu-Seeland en Swede gehou. Die eerste byeenkoms van hierdie reeks is in Julie 2012 in Swede gehou, en die laaste drie is in Januarie 2013 in Costa Rica en Nieu-Seeland gehou.

Soos die ander driedaagse byeenkomste wat ons elke jaar organiseer, het hierdie spesiale byeenkomste Bybeltoesprake, demonstrasies en dramas ingesluit.

Vir hierdie spesiale reeks is afgevaardigdes genooi om byeenkomste buite hulle tuisland by te woon. Voor en ná die byeenkomste het hulle die geleentheid gehad om op voorafgereëlde toere van die gasheerland te gaan.

’n Afgevaardigde by die byeenkoms in Brasilië het gesê: “Dit was wonderlik om die buitengewone liefde en gasvryheid van die broers te ondervind. Dit was asof ek kitsfamilielede gekry het.”

Nog ’n afgevaardigde, wat die spesiale byeenkoms in Hongkong bygewoon het, het gesê: “Dit was vir my roerend om die stralende gesigte en traangevulde oë van Mandarynssprekende byeenkomsgangers te sien terwyl hulle die nuwe Bybelpublikasies teen hulle bors vasgedruk het.”

Jehovah se Getuies hou elke jaar byeenkomste regoor die wêreld. Miljoene woon dit by.

Byeenkomste gee diegene wat dit bywoon, die geleentheid om die groot liefde, vreugde en vrede van ons broederskap te ondervind. Dit kan veral by spesiale of internasionale byeenkomste gesien word. Tussen sessies geniet die byeenkomsgangers dit om met mekaar te gesels, saam te eet, vir mekaar geskenkies en kontakbesonderhede te gee, foto’s te neem en mekaar liefdevol te omhels.

Soos in die geval van al ons byeenkomste, is mense wat nie Jehovah se Getuies is nie, welkom om dit by te woon.