Spring na inhoud

’n Webuitsending regoor die wêreld

’n Webuitsending regoor die wêreld

Op Saterdag 5 Oktober 2013 het ’n gehoor van 257 294 in 21 lande die 129ste jaarvergadering van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap van Pennsilvanië persoonlik of deur middel van ’n regstreekse webuitsending bygewoon. Later daardie naweek het nog Getuies na die program gekyk. Die totale bywoningsyfer was 1 413 676 in 31 lande. Vanjaar se vergadering was die grootste samekoms van Jehovah se Getuies tot nog toe, groter as die 1 327 704 wat op 28 April 2013 gekyk het na ’n spesiale program wat in Mexiko en Sentraal-Amerika gehou is.

Vanaf die 1920’s het Jehovah se Getuies dit vir internasionale gehore moontlik gemaak om na hulle streekbyeenkomsprogramme te luister deur middel van telefoonverbindings sowel as groot radionetwerke. Nou stel Internet-tegnologie mense selfs in afgeleë plekke in staat om programme te hoor en te sien terwyl dit plaasvind of kort na die afloop daarvan. William, een van Jehovah se Getuies in die Verenigde State, het in 1942 ’n streekbyeenkoms in Richmond, Virginië, bygewoon en deur middel van ’n telefoonverbinding na die program geluister. Hy het hierdie ondervinding met vanjaar se jaarvergadering vergelyk en gesê: “Jy vind soveel meer baat by die program wanneer jy dit kan sien. Daar is werklik geen vergelyking nie.”

Lede van etlike takkantore van Jehovah se Getuies het meer as ’n jaar lank gewerk aan reëlings vir die webuitsending en het duisende ure aan hierdie projek gewy. Op die naweek van die webuitsending het tegnici die program vanaf ’n beheersentrum in Brooklyn, New York, gemonitor, en hulle het dag en nag ononderbroke gewerk terwyl dit by vergaderplekke in 15 tydsones vertoon is. Ryan, wat met die reëlings vir en toesig oor die webuitsending gehelp het, het gesê: “Ons het slaap verloor, maar die wete dat soveel meer mense by die program baat gevind het, het dit alles die moeite werd gemaak.”

Gehoor in Katherine, die Noordelike Gebied, Australië