Spring na inhoud

JW.ORG verbeter mense se lewens

JW.ORG verbeter mense se lewens

Mense regoor die wêreld vind baat by jw.org. Hier is net ’n paar van die talle dankiesêbriewe wat vanaf Mei 2014 aan die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies gestuur is.

Hulp vir jong kinders

“My kleuter het dikwels huis toe gekom met potlode, klein speelgoed en selfs sonbrille wat aan sy vriende behoort het. Ons het oor en oor probeer om hom te help verstaan dat dit op diefstal neerkom en dat diefstal verkeerd is. Al ons pogings het misluk totdat ons die video Dit is verkeerd om te steel van jw.org afgelaai het. Dit was ’n kragtige hulpmiddel en presies wat ons seun nodig gehad het. Nadat hy daarna gekyk het, het hy gesê dat hy al die items wil teruggee, aangesien hy nou oortuig is dat dit volgens God verkeerd is om te steel. Hierdie webwerf het ons werklik baie gehelp!”—D. N., Afrika.

‘Die video Dit is verkeerd om te steel op jw.org was ’n kragtige hulpmiddel en presies wat ons seun nodig gehad het’

“My kinders hou baie van die webwerf. Hulle laai kort geanimeerde video’s af wat hulle help om Bybelbeginsels oor leuens en diefstal beter toe te pas. Hulle leer ook ander belangrike eienskappe wat hulle hulle hele lewe sal kan gebruik, en hulle word dus ’n bate vir die samelewing.”—O. W., Wes-Indiese Eilande.

Hulp vir skoolkinders

“Ek het skool as ’n las beskou, en ek het dit oorweeg om skool te verlaat. Maar eendag het ek die artikel ‘Moet ek skool verlaat?’ op die webwerf jw.org gelees. Dit het my gehelp om ’n positiewe beskouing van skool te verkry. Ek kon uit die artikel sien dat skool my sal voorberei vir die toekoms en my sal help om ’n verantwoordelike persoon te word.”—N. F., Afrika.

“Die raad vir jongmense op hierdie webwerf het my geleer hoe om goeie sedes by die skool te handhaaf”

“Die raad vir jongmense op hierdie webwerf het my geleer hoe om goeie sedes by die skool te handhaaf. Ek het geleer hoe om op my studies te konsentreer en afleidings te vermy.”—G., Afrika.

“’n Medewerker het gekla dat haar dogter by die skool afgeknou word, veral deur een spesifieke meisie. Dit het so ’n negatiewe uitwerking op die kind gehad dat sy ’n paar dae nie skool toe gegaan het nie omdat sy so bang was. Ek het met my medewerker gepraat oor punte uit die witbord-tekenprent Sit ’n afknouer op sy plek sonder om jou vuiste te gebruik, wat op jw.org beskikbaar is. Sy het veral gehou van die raad om humor te gebruik om die spanning te verlig. Sy het met haar kind gepraat oor hoe sy die afknouery kan teëwerk. Gevolglik het die meisie met meer selfvertroue skool toe gegaan. Mettertyd het die situasie verbeter, en die afknouer het selfs vriendelik geword.”​—V. K., Oos-Europa.

Hulp vir jong volwassenes

“Dankie vir die artikel op die webwerf met die titel ‘Waarom sny ek myself?’ Dit is ’n probleem waarmee ek al lank sukkel. Ek het gedink dat ek heeltemal alleen is en dat ander nie sou verstaan as ek hulle daarvan vertel nie. Die voorbeelde in die artikel het my werklik gehelp. Uiteindelik verstaan iemand wel!”—’n Jong vrou in Australië.

“Die voorbeelde in die artikel het my werklik gehelp. Uiteindelik verstaan iemand wel!”

“Die webwerf jw.org het dit vir my baie makliker gemaak om nuttige raad te kry oor sake wat jongmense raak. Een artikel het my byvoorbeeld gehelp om vorme van seksuele teistering te identifiseer en te sien dat ek ’n slagoffer daarvan was. Dit het my ook gewys hoe ek dit reg kan hanteer.”—T. W., Wes-Indiese Eilande.

Hulp vir ouers

“My tienerseun is hiperaktief. Sy onstabiele en onvoorspelbare gedrag laat my dikwels oorweldig voel. Gevolglik het ons dit moeilik gevind om te kommunikeer. Eendag het ek jw.org besoek en die gedeelte vir egpare en ouers gekies. Ek het soveel artikels gekry wat op my situasie van toepassing is en wat my geleer het hoe om met my seun te kommunikeer. Hy het ook by die webwerf baat gevind. Hy praat nou openhartig met my oor sy vreugdes en bekommernisse.”—C. B., Afrika.

“Dikwels verskyn ’n artikel op presies die regte tyd op jw.org om ons te help met ’n uitdaging waarmee die kinders sukkel”

“Die webwerf jw.org maak dit vir ons as ouers moontlik om ons kinders te leer op ’n manier wat hulle geniet. Byvoorbeeld, die witbord-tekenprent oor hoe om ’n ware vriend te vind, het ons kinders gehelp om die regte beskouing van vriendskap te verkry en om vriende te kies wat ’n goeie invloed op hulle sal hê. Dikwels verskyn ’n artikel op presies die regte tyd op jw.org om ons te help met ’n uitdaging waarmee die kinders sukkel. Dit is ’n ryk bron van goeie raad.”—E. L., Europa.

Hulp vir egpare

“Ek en my vrou is nou ses jaar getroud. Soos alle egpare moes ons die uitdaging die hoof bied om ons uiteenlopende kommunikasiestyle, agtergronde en beskouings oor sake met mekaar te versoen. Die artikel op jw.org ‘Hoe om ’n goeie luisteraar te wees’ het my oog gevang. Dit het praktiese raad gegee oor hoe om beter te luister. Ek het die artikel gelees en dit toe vir my vrou gewys. Ons probeer die nuttige voorstelle toepas.”—B. B., Wes-Indiese Eilande.

‘Hierdie webwerf het my huwelik gered’

“Ek assosieer al die afgelope jaar met Jehovah se Getuies, en ek wil my opregte waardering uitspreek vir die webwerf jw.org. Hierdie webwerf het my baie dinge geleer, insluitende hoe om my humeur in toom te hou en hoe om ’n goeie man en pa te wees. Ek kan eerlikwaar sê dat hierdie webwerf my huwelik gered het.”—L. G., Wes-Indiese Eilande.

Hulp vir die dowes

“Die webwerf jw.org het my weer lus gemaak vir die lewe. Danksy die video’s in Amerikaanse Gebaretaal kon ek my gebaretaal verbeter. Ek het voorheen gevoel asof ek geen betekenisvolle doelwitte in my lewe kan stel nie, maar toe ek gekyk het na die video Ek sien God se Woord in my taal, het dit my hart geraak en my vasbeslotenheid versterk om op die positiewe aspekte van die lewe te konsentreer.”​—J. N., Afrika.

“Die webwerf jw.org het my weer lus gemaak vir die lewe”

“Die webwerf is waarlik ’n kosbare skat. Ek is ’n vrywillige werker wat die dowes help, veral dowe jongmense. Die groot verskeidenheid materiaal in gebaretaal het my gehelp om mý gebaretaal te verbeter. Die webwerf het my gehelp om hulp te verleen aan diegene wat hulle familielewe en hulle vriendskappe wil verbeter.”—K. J., Wes-Indiese Eilande.

Hulp vir die blindes

“Ek is ’n blinde persoon wat by jw.org baat gevind het. Dit voorsien my van inligting wat maande kan neem om my deur die pos te bereik. Die webwerf het my familielewe verryk en my ’n nuttige lid van die samelewing gemaak. Dit het dit ook vir my moontlik gemaak om inligting op dieselfde tyd te ontvang as my vriende wat kan sien.”—C. A., Suid-Amerika.

“Die webwerf het my familielewe verryk en het my ’n nuttige lid van die samelewing gemaak”

“Vir diegene wat nie braille kan lees nie of nie genoeg geld het om brailleboeke te koop nie, is jw.org ’n ware skat. Deur middel van insiggewende oudio-opnames kan die blindes op hoogte bly van baie onderwerpe. Hierdie webwerf is ontwerp vir alle mense; daar is geen diskriminasie of vooroordeel nie. Dit help dié van ons wat blind is, om te voel dat ons gerespekteer word en dat ons deel van die samelewing is.”—R. D., Afrika.

Hulp vir dié wat geestelik honger is

“Die verskil tussen julle webwerf en ander godsdienswebwerwe is dat dit jou nie bombardeer met godsdienstaal wat net ’n priester kan verstaan nie. En dit oorweldig jou nie met soveel inligting dat jy verlore voel nie. Julle webwerf is eenvoudig en direk. Dit is nie langdradig of vol filosofie nie. Dit laat dit nie lyk asof geloof iets ingewikkelds is nie. Dit toon eerder dat geloof iets is wat die gewone mens kan verkry.”—A. G., Asië.

‘Julle webwerf is eenvoudig en direk. Dit toon dat geloof iets is wat die gewone mens kan verkry’

“Ellendig! Dis hoe my lewe sou wees sonder jw.org. In ’n wêreld wat in geestelike duisternis is, is hierdie webwerf soos ’n lig wat ek net kan aanskakel. Ek kan dadelik artikels sien en hoor wat God se beskouing van sake verduidelik en antwoorde op baie vrae in die lewe vind.”—J. C., Wes-Indiese Eilande.

“Ek waardeer al die geestelike hulp wat ek hier in die middel van die oerwoud in Suid-Amerika ontvang. Sonder hierdie webwerf sou ek verlore wees.”—M. F., Suid-Amerika.