Spring na inhoud

Teymur Akhmedov voordat hy tronk toe gestuur is

13 OKTOBER 2017
KAZAKSTAN

Kazakstan skuldig bevind aan arbitrêre opsluiting in die saak teen Teymur Akhmedov

Kazakstan skuldig bevind aan arbitrêre opsluiting in die saak teen Teymur Akhmedov

Die VN se Werkende Groep vir Arbitrêre Opsluiting (WGAD) het die regering van Kazakstan veroordeel omdat hulle Teymur Akhmedov in die tronk opgesluit het. Die WGAD dring daarop aan dat hy onmiddellik vrygelaat word. * Ná ’n deeglike ondersoek van die saak het die WGAD hulle beslissing op 2 Oktober 2017 gepubliseer. Hulle het bevind dat Kazakstan skuldig is aan die arbitrêre opsluiting van mnr. Akhmedov, wat sedert 18 Januarie 2017 in die tronk is, omdat hy met ander oor sy godsdiensoortuigings gepraat het.

Bevindings van die WGAD

In die WGAD se beslissing het hulle bevind dat die opsluiting van mnr. Akhmedov aan die vereistes vir arbitrêre opsluiting voldoen. Hulle het bevind dat die regering hom nie toegelaat het om sy basiese vryheid van godsdiens en meningsuiting uit te oefen nie. Hy het ook nie ’n regverdige verhoor gekry nie en daar is teen hom gediskrimineer net omdat hy een van Jehovah se Getuies is.

Die WGAD het Kazakstan ook daarvan beskuldig dat hulle mnr. Akhmedov onregverdig gearresteer en vervolg het. Die WGAD het verwys na ’n vorige beslissing van die VN se Menseregtekomitee wat Kazakstan gekritiseer het vir “die onduidelike definisie van ‘ekstremisme’ . . . en die gebruik van sulke wetgewing om die vryheid van godsdiens, meningsuiting, die reg om vryelik te vergader en met ander te assosieer, te beperk”. Die WGAD het daarop gewys dat hierdie wetgewing “die reg op godsdiensvryheid in Kazakstan ernstig bedreig” en dat “die saak teen mnr. Akhmedov ’n duidelike bewys hiervan is”.

In teenstelling hiermee het die WGAD mnr. Akhmedov se godsdiensbedrywighede herhaaldelik as “heeltemal vreedsaam” beskryf. Hulle het ook gesê dat hy nie ander tot geweld of godsdienshaat aangehits het toe hy met hulle oor sy godsdiens gepraat het nie. Die WGAD het die feit beklemtoon dat die regering nie enige bewyse kon gee “van geweld of aanhitsing van ander tot geweld deur mnr. Akhmedov nie”. Hulle het ook gesê dat die regering “nie kon verduidelik hoekom dit ’n misdaad is om met ander te vergader en vreedsame besprekings oor godsdiens te hê nie”. Hulle het verder gesê dat “dit vir die Werkende Groep duidelik is dat mnr. Akhmedov net sy reg op godsdiensvryheid onder artikel 18 van die Verdrag uitgeoefen het”. *

Die WGAD het ook die manier waarop mnr. Akhmedov deur die owerheid in Kazakstan behandel is, verbind met ander bewyse van godsdiensonverdraagsaamheid deur die regering teenoor Jehovah se Getuies. Dit is bevestig deur die feit dat die owerhede, op dieselfde dag wat mnr. Akhmedov gearresteer is, die vergaderplek van die Getuies binnegegaan en op godsdienslektuur beslag gelê het.

“Dit is vir die Werkende Groep duidelik dat mnr. Akhmedov net sy reg op godsdiensvryheid onder artikel 18 van die Verdrag uitgeoefen het.” — Mening, paragraaf 39.

Owerheid in Kazakstan moet optree

Die WGAD versoek dat Kazakstan “die nodige stappe doen om die situasie in verband met mnr. Akhmedov dadelik reg te stel”. Hulle sê dat die regte manier om sake reg te stel “sal wees om mnr. Akhmedov onmiddellik vry te laat en aan hom die reg toe te staan om vir skade vergoed te word”. Die WGAD vra ook dat Kazakstan sy wette en gebruike verander sodat dit ooreenstem met die regering se internasionale verpligtinge, en om te keer dat die regering weer dieselfde fout maak en iemand anders behandel soos wat hulle mnr. Akhmedov behandel het.

Op 13 Oktober 2017 het mnr. Akhmedov se regsverteenwoordigers ’n versoek by die hooggeregshof van Kazakstan ingedien. Hulle vra dat die beslissing van die WGAD toegepas word, dat hy vrygespreek word van alle aanklagte en dat hy onmiddellik vrygelaat word.

Jehovah se Getuies regoor die wêreld is dankbaar dat daar internasionaal erken word dat Teymur Akhmedov onregverdig behandel is. Hierdie saak beklemtoon ook dat Kazakstan meer respek vir godsdiensvryheid moet toon. Hulle verwag dat die regering van Kazakstan die beslissing van die WGAD sal toepas en mnr. Akhmedov onmiddellik uit die tronk sal vrylaat.